Nuus 15:00
BULLETIN 15 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Magashule is vol vertroue met die asbessaak wat uitgestel is
# Herstelwerk aan die ondersese internetkabels sal ‘n maand langer duur
# En, tennis: Tsitsipas en Ruud maak groot spronge op die wêreldranglys ná die Monte Carlo-eindstryd
# Die asbesdak-verwyderingsaak van 255-miljoen-rand waarby die ANC se voormalige sekretaris-generaal, Ace Magashule, betrek word, is in die Hooggeregshof in Bloemfontein tot 14 Junie uitgestel. Magashule, die sakeman Edwin Sodi en nog 14 mense word aangekla van bedrog, korrupsie, geldwassery en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Magashule het aan die media gesê hy is onskuldig en het nooit staatsgeld gevat nie:
# Meer as een-duisend-miljard-rand is die afgelope dekade uit Suid-Afrikaanse aandele en effekte onttrek. Ou Mutual se voorsitter en oud-minister van Finansies, Trevor Manuel, skryf dit toe aan dalende vertroue te midde van regeringskrisisse. Manuel sê beleggers soek regulatoriese bestendigheid. Hy beklemtoon beleidsekerheid en samewerking tussen sektore vir die herlewing van beleggingsvertroue. Hy sê ondanks pogings om instellings en die ekonomie te herbou, is meer werk nodig om korrupsie uit te roei en vertroue te herwin. Manuel vra ‘n balans in fiskale behoeftes met duidelike langtermyn-regulasies.
# Herstelwerk aan die ondersese kommunikasiekabels wat internet-ontwrigtings in talle Afrika-lande veroorsaak het, sal minstens ‘n maand langer duur. Suid-Afrika en agt lande in Wes-Afrika word geraak deur die skade aan vier kabels, skynbaar weens verskuiwings in die seebodem. Internetgebruikers wat geraak is, is intussen na Google se Equiano-kabel herlei. Herstelwerk het begin deur ‘n herstelskip na die gebied te stuur. Kliënte van onder meer Telkom, Vumatel, Vodacom en Mweb word plaaslik geraak.
# Iran het Westerse lande gevra om sy selfbeheersig teenoor Israel te waardeer nadat hy dié land aangeval het uit wraak vir ‘n noodlottige aanval op sy konsulaat in Damaskus, Sirië. Iran se woordvoerder vir Buitelandse Sake, Nasser Kanani, sê lande moenie Iran beskuldig nie, maar liewer hulself verwyt en op die openbare vrae reageer oor hul maatreëls teen Israel se oorlogsmisdade in Gaza. Die Duitse kanselier, Olaf Scholz, het Israel intussen gevra om hom van aanvalle op Iran te weerhou nadat hy Iran se ongekende hommeltuig- en missiel-aanvalle suksesvol afgeweer het.
# Tennis: Stefanos Tsitsipas van Griekeland en Casper Ruud van Noorweë het groot vordering gemaak op die wêreldranglys nadat hulle die eindstryd van die Monte Carlo-meesterstoernooi gehaal het. Die kampioen, Tsitsipas, het vyf posisies opgeskuif tot sewende en Ruud vier posisies tot sesde. Novak Djokovic van Serwië en Jannik Sinner van Italië is steeds die top twee, gevolg deur Carlos Alcaraz van Spanje, Daniil Medvedev van Rusland en Alexander Zverev van Duitsland. Tsitsipas het Ruud geloof na hy hom in skoon stelle verslaan het:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-716-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-357-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….