Nuus 15:00
BULLETIN 12 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak teen die vermeende moordenaars van Kaizer Chiefs se verdediger, Luke Fleurs, word uitgestel
# Sokker: Die Premierliga sal semi-outomatiese onkant-tegnologie bekendstel
# En ‘n nuwe benadering is nodig teen die skerp toename in ontvoerings in Suid-Afrika
# Die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng, het die moordsaak teen ses beskuldigdes uitgestel wat verbind word met die moord op die Kaizer Chiefs-verdediger Luke Fleurs in ‘n mislukte kaping in Johannesburg. Hulle word aangekla van moord, roof, die besit van onwettige vuurwapens en regsverydeling. Die uitstel sal regshulp-aansoeke moontlik maak. Landdros Annaline Africa het die media opdrag gegee om nie haar gesig en dié van hofbeamptes te wys nie:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, het die Weskus-kreefseisoen verleng tot volgende Vrydag weens die onlangse gure weer in die Wes-Kaap. Die departement se woordvoerder, Peter Mbelengwa, sê kleinskaalse viskoöperasies het daarvoor gevra. Mbelengwa sê ‘n openbare kennisgewing sal vandag verskyn:
# China het Amerika gevra om ‘n opbouende rol te speel in die Midde-Ooste, tydens ‘n telefoongesprek van sy topdiplomaat Wang Yi met sy Amerikaanse eweknie, Antony Blinken. China sê hy sal voortgaan om ‘n opbouende rol te speel in die oplossing van die Midde-Oosterse kwessie en bydra om die situasie te help ontlont. ‘n Woordvoerder van die ministerie van Buitelandse Sake het aan die Chinese media gesê dis verál Amerika wat ‘n opbouende rol moet speel.
# Sokker: Die Premierliga sal semi-outomatiese onkanttegnologie instel om hopelik die tyd te verminder wat dit neem om video-skeidsregterbesluite te neem. Die voorste klubs het op ‘n belanghebbersvergadering eenparig besluit op die stelsel, wat na verwagting die tyd van ‘n onkantbeslissing omtrent 30 sekondes korter sal maak. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het die tegnologie gebruik in 2022 se Wêreldbekertoernooi vir mans in Katar na ‘n reeks proefnemings, insluitend in die Klub-Wêreldbekertoernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-881-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-395-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-62-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Instituut vir Sekerheidstudies beklemtoon die behoefte aan ‘n nuwe benadering om die toename te bestry in ontvoerings in Suid-Afrika, wat veral gemik is op vroue en kinders. Syfers toon meer as 16-duisend ontvoerings jaarliks, met ‘n toename van 11-persent die afgelope paar maande. Johan Burger van die instituut wys op swakhede in wetstoepassing en intelligensie-eenhede. Hy vra verbeterde maatreëls om kwesbare burgers te beskerm en die ingewikkelde netwerk van misdadige bedrywighede te pak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….