Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
#Die minister van Vervoer bevestig die einde van Gauteng se e-tolstelsel
# Die Referendum Party sê Mashatile se opmerkings oor Wes-Kaapse onafhanklikheid is nie ‘n verrassing nie
# En, gholf: Die verdedigende kampioen, Jon Rahm, slaan saam met Fitzpatrick en Dunlap af in die Amerikaanse Meesters
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het die einde aangekondig van die e-tolstelsel in Gauteng, met motoriste wat van Vrydag af nie meer daarvoor hoef te betaal nie. Sy sê die provinsiale regering sal die e-tol-infrastruktuur heraanwend, en die kamera’s behou vir padveiligheid en om misdaad vas te lê. Dit is nog onseker of die e-tolskuld afgeskryf sal word. Chikunga waarsku ook dat motoriste wat e-skyfies na die afsluiting wil hê hulle uitstaande rekenings kan betaal. Sy sê die e-skyfies sal nog by tolplaza’s werk:
# Die Referendum Party sê adjunkpresident Paul Mashatile se onlangse opmerkings oor onahanklikheid vir die Wes-Kaap is teleurstellend maar nie verrassend nie. Hy het aan inwoners van Imizamo Yethu in Houtbaai, Kaapstad, gesê die provinsie sal nooit onafhanklik wees nie. Die party se leier, Phil Craig, sê dis presies om hierdie rede dat die provinsie van die res van Suid-Afrika moet wegbreek en sy mense toelaat om ‘n ideologiese tuisland te skep wat regeer word volgens die demokratiese wil van die Wes-Kaapse meerderheid:
# ’n Artikel op die webblad van die DA het ‘n debat ontketen oor sy parlementslede Glynnis Breytenbach and Janho Engelbreckt se besoeke aan die Landdroshof in Pretoria en die Hooggeregshof. Die besoeke het volgens berigte plaasgevind sonder vooraf kennisgewing aan regter-president Dunstan Mlambo. Die artikel voer aan leë hofsale lei tot agterstande met sake, sonder om na die huidige reses tot komende Maandag te verwys. Mlambo het die verspreiding van onvolledige inligting en onbevestigde berigte deur mense met invloed gekritiseer.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Jon Rahm, is saam met Matt Fitzpatrick van Engeland en die Amerikaner Nick Dunlap in dieselfde groep vir die 88ste Amerikaanse Meesters wat môre op Augusta National in Georgia begin. Die Spanjaard gaan probeer om die toernooi die tweede agtereenvolgende keer te wen vir die eerste keer sedert die 15-malige Major-kampioen Tiger Woods dit reggekry het. Die Amerikaner slaan saam met sy landgenoot Max Homa en die Australiër Jason Day af. Die wêreld nommer-een, Scottie Scheffler, is saam met sy Amerikaanse landgenoot Xander Schauffele en Rory McIlroy van Noord-Ierland gegroepeer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-985-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Chris Hani se weduwee, Limpho (Diempoe), het die huidige regering gekritiseer en sê hy het haar man en die mense gefaal. Hy is vandag 31-jaar gelede vermoor. Hani betreur die gebrek aan politieke wil om die land se uitdagings te pak, en het uitgevaar oor die nodigheid vir moontlike fase 16-beurtkrag. Sy kritiseer ook Eskom se gebrekkige beplanning en verwys na die uitgawe van 35-miljard-rand op diesel. Hani het tydens die Chris Hani-herdenking in Ekurhuleni haar lewenslange toewyding aan die ANC uitgespreek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….