Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile gee die versekering beurtkrag eindig nog vanjaar
# Saftu is bekommerd oor die arbeidsaktiveringsprogram wat WVF-fondse gebruik
# En, krieket: Die Proteas se vrouespan is gereed vir die eendagwedstryde teen Sri Lanka
# Adjunk-president Paul Mashatile het Suid-Afrikaners verseker beurtkrag sal die einde van die jaar iets van die verlede wees. Hy het tydens ‘n openbare lesing by die Universiteit van Johannesburg gesê strategiese prosesse is ingestel om beurtkrag te beëindig. Hy het ook die strategiese pogings deur die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, en sy span geloof. Mashatile waarsku egter dat ondanks vordering, onderhoud en nuwe kragstasieprojekte steeds ‘n bestendige energie-toevoer sal moet verseker:
# Saftu is uiters bekommerd oor die 23-miljard-rand van die Werkloosheidversekeringsfonds wat deur die Arbeidaktiveringsprogram toegewys word aan sogenaamde werkskeppingskemas. Woordvoerder Trevor Shaku sê dis moontlik dat hierdie programme nou ingespan word omdat die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, en sy meelopers geld vir die verkiesing probeer insamel vir die regerende party:
# Die regering sê die Nasionale Rampbestuursentrum en provinsale en plaaslike rampbestuurspanne oral in die land is op ‘n hoë gereedsheidsgrondslag en help gemeenskappe wat deur swaar reën geraak is. Gemeenskappe in vloedgeteisterde gebiede word gewaarsku om versigtig te wees terwyl oorstromings voortduur. Suid-Afrikaners moet toesien dat kinders veilig is en nie oorstroomde paaie, brûe en riviere oorsteek nie. Gemeenskappe wat deur die vloede geraak is, word gevra om op hulle hoede te wees en na spesiale waarskuwings op radio, TV en betroubare sosialemediabronne of deur plaaslike owerhede te luister.
# Krieket: Die eerste van drie eendag-internasionale wedstryde tussen die Proteas se vrouespan en Sri lanka word vandag op Buffalopark in Oos-Londen beslis. Die gasvroue is vasberade om terug te veg na hulle nederlaag van 2-1 teen Sri Lanka in die T20-reeks. Die Proteas se kaptein, Laura Wolvaardt, meen die span is gereed om hulle fokus na die langer formaat van die spel te verskuif:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-797-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-354-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, vra sake-ondernemings en nie-regeringsorganisasies om saam met die departement te werk om werkloosheid te takel. Die provinsiale regering het onlangs die Kry jou by die Werk-program van stapel gestuur. Dit bied gratis reiskoepons aan werklose werksoekers om by onderhoude uit te kom. Elke reiskoepon sluit 12 gratis ritte in met Golden Arrow-busdienste, op weeksdae tussen agtuur soggens en vieruur middae. Mackenzie sê die program gee aandag aan die vervoerprobleem waarmee baie werksoekers te kampe het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….