Nuus 15:00
BULLETIN 23 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nqakula sê direkteurs-generaal het rekord gehou van veiligheidsbesluite
# Griekeland verbied sosiale media vir kinders onder 15
# En rugby: Die Springbok-vroue maak groot veranderings vir die kragmeting met Ierland
# Die voormalige minister van Veiligheid en Sekerheid, Charles Nqakula, sê direkteurs-generaal het rekord gehou van besluite wat geneem is tydens weeklikse veiligheidsvergaderings toe apartheidsera-sake vir moontlike vervolging oorweeg is. Hy het voor die Khampepe-kommissie getuig die agenda is gewoonlik in die vergadering uitgedeel en ministers het oor die algemeen nie notule gehou nie. Nqakula verduidelik vergaderplekke is vooraf beveilig om afluistering of infiltrasie te voorkom:
# Die Kleinhandel-motorbedryf-organisasie sê Suid-Afrika se strategie vir plaaslike vervaardiging in die motorbedryf moet verder strek as voertuigvervaardiging, en kleinhandel- en onderdele-ondernemings insluit. Uitvoerende hoof Ipeleng Mabusela het op die Suid-Afrikaanse Motorbedryfweek 2026 in Durban gesê die sektor ondersteun meer as 310-duisend werksgeleenthede in meer as 23-duisend ondernemings en dra na raming 202,6-miljard-rand by tot die ekonomie. Hy het geleenthede beklemtoon om bande, glas en batterye plaaslik te vervaardig. Mabusela sê sterker voorsieningskettings kan volhoubare werksgeleenthede skep en uitvoere bevorder.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, verwelkom die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se verbintenis in die Mini-begroting oor geslagsgeweld en vrouemoord, asook die versterking van maatskaplike beskerming. Die regering gaan 3,8-miljard-rand bestee om meer as drie-duisend-500 maatskaplike werkers te werf om die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord te versterk. Maatskaplike toelaes sal steeds befonds word. Pule sê die befondsing sal die departement help om tydige ingrypings te doen, oorlewendes te ondersteun, en te verseker vroue en kinders het toegang tot die sorg en beskerming wat hulle verdien.
Nuus uit die buiteland:
# Griekeland het wetgewing aanvaar wat kinders jonger as 15 vanaf 1 Januarie volgende jaar verbied om sosiale media te gebruik. Die Parlement het die maatreël vandag goedgekeur te midde van kommer oor die uitwerking van sosiale media op jongmense se gesondheid en veiligheid. Platforms sal ouderdoms-bevestiging moet doen, en terselfdertyd die privaatheid van gebruikers moet beskerm. Eerste minister Kyriakos Mitsotakis sê maatskappye het genoeg tyd om voor te berei. Griekeland sluit aan by ‘n groeiende aantal lande wat probeer om kinders se toegang tot sosiale media te beperk.
# Rugby: Die Springbok-vroue se medehoofafrigter, Franzel September, sê hul maak reeds vordering met die bou van diepte voor 2029 se Wêreldbeker-toernooi. Suid-Afrika pak Ierland môre in Kaapstad in die eerste van twee W15-wêreldreeks-kragmetings, met twee veranderings onder die stutte en ‘n nuwe vleuel ná die oorwinning oor Spanje vroeër die maand. Sizophila Solontsi voer die span aan in die plek van die beseerde Babalwa Latsha. September sê Ierland gaan ‘n taai teenstander wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-580-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-30-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….