Nuus 15:00
BULLETIN 9 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solomon Makgato word aangestel as waarnemende afdelingskommissaris vir misdaadintelligensie
# Sakeliga en NEASA dien ‘n dringende hofaansoek in om kwotas vir gelyke indiensneming te stop
# En
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die hoof van die Valke in die Wes-Kaap, Solomon Makgato, as waarnemende afdelingskommissaris vir misdaadintelligensie aangestel. Hy sê dit volg na die inhegtenisneming van die afdelingskommissaris vir misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en ses ander verlede maand weens bewerings van bedrog. Masemola sê die polisie het volle vertroue in Makgato en vertrou dat sy leierskap doeltreffendheid sal verbeter en tot bestendigheid binne misdaadintelligensie sal lei:
# Sakeliga en die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, Neasa, het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die implementering van 2025-kwotas vir gelyke indiensneming te stop. Hulle voer aan die reëls, waarvolgens maatskappye met meer as 50 werkers aan nasionale ras- en geslagsteikens moet voldoen, ongrondwetlik en prosedureel gebrekkig is. Piet le Roux van Sakeliga beweer daar was geen behoorlike konsultasie nie, en die kwotas neem nie die unieke behoeftes van elke bedryf in ag nie.
# Solidariteit moedig Bidvest aan om sy beursprogram teen 25 Julie aan te pas of regstappe te verwag. Die vakbond sê die huidige skema sluit onregverdig wit kinders van lae-inkomste gesinne uit. Bidvest bied ‘n beursskema vir swart-, bruin- en Indiërkinders van werknemers wat minder as 15-duisend-rand per maand verdien. Anton van der Bijl van Solidaritiet sê voordele moet nie rasgegrond wees nie:
# Lesotho het ‘n nasionale noodtoestand aangekondig oor die drastiese toename in werkloosheid en massiewe werksverliese terwyl dit steier onder die ekonomiese gevolge van VSA-tariewe en minder buitelandse hulp. Die ekonomie, wat tekstiel-intensief is, het reeds met hoë werkloosheid, veral onder jongmense, gesukkel voor president Donald Trump hulp gesny en invoertariewe verhoog het. Die wet, wat die regering addisionele magte gee, insluitende die omseiling van standaardprosedures, sal vir twee jaar in werking wees. Ministeries is reeds aangesê om twee-persent van hulle begrotings aan werkskeppingspogings af te staan.
# Motorsport: Die Formule Een-spanhoof van Red Bull, Christian Horner, is met onmiddellike effek afgedank na 20 jaar in beheer. Hy het sedert 2005 die span tot ses vervaardigers- en agt bestuurderskampioenskappe aangevoer. ‘n Vroulike kollega het in Februarie verlede jaar bewerings van onbehoorlike gedrag teen Horner gemaak, wat later op appèl van die hand gewys is. Ander hoëprofiel-persone het die afgelope 18-maande die span verlaat, insluitend die legendariese ontwerper Adrian Newey en sportdirekteur Jonathan Wheatley. Daar was ‘n ongemaklike verhouding tussen Horner en die Verstappens, veral renjaer Max Verstappen se pa, Jos.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-57-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-290-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….