Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu sê die polisie sal voortgaan om misdadigers te vervolg wat die vrede en veiligheid van gemeenskappe bedreig
# Cosatu vra die privaat sektor om ‘n rol te speel met die instelling van die Wet op Klimaatsverandering
# En, die Olimpiese Spele: Die mans Sewes-kompetisie begin in Parys
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê die polisie sal steeds met onversetlike vasberadenheid misdadigers vervolg wat die vrede en veiligheid van gemeenskappe bedreig. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê drie verdagtes wat gesoek is vir ‘n reeks moorde, insluitend die moord op ‘n polisiesersant verlede jaar, is gisteraand doodgeskiet in ‘n skietgeveg met die polisie in die Congo-gebied in Inanda in KwaZulu-Natal:
# Cosatu sê hy sien uit na vinnige optrede deur alle regeringsvlakke om die Wet op Klimaatsverandering in te stel. Matthew Parks van die vakbondfederasie sê terwyl die wet ‘n progressiewe grondslag lê vir die land se reaksie op klimaatsverandering, kan dit net die doel bereik as die regering sy departemente die bronne gee om dit te verwesenlik. Parks sê die privaat sektor moet ook sy rol speel:
# Die jaarlikse inflasiekoers was in Junie 5,1-persent, wat ‘n daling toon van die 5,2-persent in Mei. Statistieke SA sê die jaarlikse inflasiekoers vir voedsel en nie-alkoholiese drank het gedaal tot 4,6-persent in Junie – die laagste sedert September 2020. Slegte nuus vir koffie- en teeliefhebbers is dat die jaarlikse koers vir warm drankies geklim het van 14,2-persent in Mei tot 16,5-persent in Junie. Die jaarlikse koers vir brood en graankos het die eerste keer in 14 maande gestyg. Die inflasiekoers in die kategorie virm melk, eiers en kaas het die afgelope ses maande verstadig.
# Werk met Vuur ontplooi môre meer as 200 brandbestryders en 15 bestuurders na Kanada om te help om Vlak 5-wegholbrande in Alberta onder beheer te kry. Dit is Suid-Afrika se sesde ontplooiing om die land by te staan. Klimaatsverandering het hittegolwe vermoedelik erger gemaak, met byna drie-duisend-600 brande wat reeds vanjaar oor 2,2-miljoen hektaar gewoed het. Die wegholbrande, wat tans 12-kilometer van die dorpsgebied van die Jasper Nasionale Park woed, het 25-duisend mense gedwing om te ontruim en kampeerbedrywighede is gekanselleer tot 6 Augustus.
# Olimpiese Spele: Die Sewes Rugbykompetisie vir mans begin vandag op die Stade de France in Parys. Suid-Afrika speel vanmiddag halfses sy eerste wedstryd in Groep A teen Ierland en 9.30 vanaand teen die All Blacks. Die groepwedstryd teen Japan begin môremiddag vier-uur. Die kwarteindronde is môreaand en die halfeindstryde en eindstryd vind Saterdag plaas. Die kompetisie vir vroue begin Sondag, met die eindstryd Dinsdag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-497-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-414-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….