Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen regstappe teen John Hlophe se benoeming tot die RDK
# Die SOE lê beslag op bates van 52-miljoen-rand in ‘n Covid-19 beskermingstoerusting-korrupsiesaak
# En, die Olimpiese Spele: LeBron James sal in Parys een van Span Amerika se vlagdraers wees
# Die DA sê hy het dokumente by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien teen die aanwysing van die voormalige regter, John Hlophe, op die Regterlike Dienskommissie. Woordvoerder Helen Zille sê die aansoek is om Hlophe dringend te verbied om op die RDK te dien, hangende die uitkoms van die tweede deel. Dit behels dat die party vra dat die Nasionale Vergadering se besluit om Hlophe as die MK-party se verteenwoordiger op die kommissie aan te wys, hersien en herroep moet word:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid, die Batebeslagleggingseenheid en die Valke het vandag beslag gelê op bates van meer as 52-miljoen-rand wat met die Covid-19 beskermingstoerusting-korrupsiekwessie verband hou. Woordvoerder Kaizer Kganyago het aan die SABC gesê 22 senior hoofde van die Departement van Openbare Werke in Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap is in hulle visier. Hy sê die span het sowat 34 plekke geteiken:
# Die vise-kanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, professor Imraan Valodia, sê die land het nuwe denke nodig om die ekonomie op ‘n pad te plaas wat werksgeleenthede skep. Valodia sê om Suid-Afrika se werkloosheidskrisis op te los, verg vernuwende denke en ‘n erkenning dat beleidsrigtings wat die arbeidsmark wil dereguleer, nie die oplossing is nie. Hy sê die land het ‘n beleid nodig wat die vraag na arbeid verhoog en dit beteken ‘n nuwe rigting van groei wat indiensneming voorop stel. Dit kan onder meer groter staatsbesteding in plattelandse gebiede en informele nedersettings wees.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê aansoeke vir graad R en oorplasings vir 2025 open op 1 Augustus. Ouers kan aanlyn aansoek doen vir Graad R met ‘n immuniseringskaart, ID en bewys van adres. Oorplasingsaansoeke vir Graad twee tot sewe en nege tot 12 moet by die betrokke skool of ‘n kantoor van die departement ingedien word, met die nodige dokumente soos die laaste rapport en ID. LUR David Maynier het ouers versoek om so spoedig moontlik aansoek te doen:
# Olimpiese Spele: Die basketbalheld LeBron James sal Vrydag een van Span Amerika se vlagdraers wees tydens die openingsplegtigheid in Parys. Die res van die span het die 39-jarige gekies vir die plegtigheid op die oewer van die Seine, wat dit die eerste openingsgeleentheid maak wat buite die hoofstadion aangebied word. Die atlete sal op vlotte hulle verskyning maak. James sê dit is ‘n ongelooflike eer om Amerika te verteenwoordig op die internasionale verhoog, veral omdat dit ‘n oomblik is wat die hele wêreld kan verenig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-928-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-407-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….