Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkomstediens veroordeel die sluipmoordpoging op ‘n advokaat van Durban wat ongerymdhede ondersoek het
# Sitrusproduksie in die Wes-Kaap word geraak weens die onlangse oorstromings
@ En, die Olimpiese atletedorp word beskryf as ‘n model van lae-koolstofbouwerk
# Die Inkomstediens het die sluipmoordpoging op advokaat Coreth Naudé in Durban veroordeel. ‘n Koeël is deur haar nek en nog drie het haar in die skouer en bors getref. Naudé het ‘n noodoperasie ondergaan en is in ‘n bestendige toestand onder swaar bewaking. Volgens News24 het sy ondersoek ingestel na die SAID se pogings om beslag te lê op ‘n vloot luukse voertuie wat aan die sakevrou Shauwn Mkhize en haar maatskappy Royal AM Football, asook die Shandi-trust behoort. Die SAID het probeer om 37-miljoen-rand se onbetaalde belasting te in. Die diens sê die aanval is bedoel om hofamptenare te intimideer.
# Die Sitruskwekersvereniging het sy kommer uitgespreek oor die ernstige uitwerking van die onlangse oorstromings op sitrusproduksie in die Wes-Kaap. Dit volg nadat al die toegangspaaie na Citrusdal weggespoel en die dorp afgesny is. Die skade weens die vloede word op meer as 430-miljoen-rand geraam. Die vereniging se voorsitter, Gerrit van der Merwe, vra vinnige en doeltreffende ondersteuning van die provinsiale regering. Noodmaatreëls is getref, insluitend ‘n privaat brug, maar die padverbinding moet dringend herstel word om noodsaaklike sitrus-uitvoere te ondersteun.
# Die Stad Tshwane sê hy bly daartoe verbind om te keer dat Blackhead Consulting en sy vennote, CMS en NJR, met die openbare sektor sake doen weens nie-nakoming en vermeende tender-onreëlmatighede. Die maatskappye het in Augustus 2022 begin met die opgraderingsprojek van 291-miljoen-rand by die Rooiwal-watersuiweringsaanleg. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê hulle het weer aan die Nasionale Tesourie geskryf en gevra dat die maatskappye op die swartlys geplaas word:
# Olimpiese Spele: Die atlete-dorp in Parys is as ‘n model van lae-koolstofbouwerk beskryf nadat dit gister die eerste besoekers verwelkom het. Dit het nie lugversorging nodig nie, want die temperatuur binne is minstens ses grade laer as buite. Die dorp sal sowat 14-duisend-500 mense tydens die besigste tyd huisves, wat nege-duisend atlete insluit wat van volgende week aan die Spele gaan deelneem. Na die Somer- en Paralimpiese spele gaan die kompleks in huise omskep word waarvan minstens ‘n derde as openbare behuising geoormerk is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-44-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-412-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: Die uitvoerende hoof van BetterBond, Bradd Bendall, sê Suid-Afrikaners sal bietjie langer moet wag vir die nuwe regering se planne vir ekonomiese groei om te begin koers kry en vir inflasie om ‘n draaipunt te bereik, voor rentekoerse sal begin daal. Brendall sê dit was ‘n moeilike jaar vir huiseienaars met die prima-uitleenkoers wat op ‘n 15-jaar hoogtepunt is. Hy vra huiseienaars om die paaiemente op hulle huisverbande by te hou en versigtig te begroot:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….