Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie ontken bewerings van ‘n werknemer wat die ANC-lid Lindiwe Sisulu teister
# KwaZulu-Natal se premier bevestig meer as 30-miljoen-rand se skade na die veldbrande
# En, tennis: Rafael Nadal speel teen Björn Borg se seun in die eerste ronde in Bastad
# Die Presidensie verwerp bewerings deur die ANC-veteraan, Lindiwe Sisulu, dat ‘n personeellid haar op die sosiale media-platform, X teister. Sisulu beweer volgens News24 ‘n rekening genaamd Goolam het haar geteister en dat ondersoeke toon die rekening is hanteer deur iemand in die Presidensie. Sy glo die aanvalle het begin nadat sy in 2022 ‘n aanspraakmaker was vir die ANC se leierskaps-posisies. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, versoek Sisulu om enige verkeerde optrede te rapporteer vir deeglike ondersoek.
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, lei ‘n toesigbesoek aan gebiede wat geraak is deur die veldbrande waartydens meer as 200 gesinne hulle huise verloor het in Kenville, en ses brandbestryders dood is in Boston. Volgens Ntuli het die brand ook boere en lewende hawe geraak en 30-miljoen-rand se skade veroorsaak. Die premier benadruk dis noodsaaklik dat die regering die gebied as ‘n rampgebied verklaar. Hy vra ook vir samewerking om toekomstige brande te voorkom:
# Die landbou-organisasie TLU SA wil hê president Cyril Ramaphosa moet gedurende die opening van die nuwe Parlement die noodsaak beklemtoon om sterker ekonomiese oorwegings in te span en gesonde beginsels vir volhoubare ekonomiese groei toe te pas. Woordvoerder Bennie van Zyl sê die regering van nasionale eenheid het onlangs bevestig transformasie is steeds een van sy hoofdoelwitte, maar die organisasie is van mening die soort transformasie van die afgelope 30 jaar het beduidende skade aangerig:
# Die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi, gaan met die SABC, eMedia en MultiChoice vergader om die lank bestaande kwessie van sport-uitsaairegte by te lê. Dit volg omdat sportbyeenkomste dikwels betaalkanale nader en gratis kanale isoleer. Malatsi het tydens die voorlegging van sy mini-begroting van 3,9-miljard-rand gewys op die uitdagings waarvoor die SABC en gratis kanale te staan kom. Hy en die minister van Sport, Gayton McKenzie, beplan om nog hierdie week na oplossings te soek.
# Tennis: Die koning van klei, Rafael Nadal, speel vandag teen die Sweedse maestro Björn Borg se seun, Leo, in die eerste ronde van die Nordea Ope in Bastad, Swede. Die Spanjaard gebruik die toernooi om voor te berei vir die Olimpiese Spele, wat gespeel word op Roland Garros in Parys waar hy sy 14 Franse Ope-titels ingepalm het. Die 21-jarige Borg sê hy het die 38-jarige Nadal in sy vroeë tennisjare bewonder, eerder as sy pa, wat tussen 1974 en ’81 elf Grand Slam-toernooie gewen het. Hy en Nadal oefen gereeld saam.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-341-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-441-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….