Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering keur John Hlophe se benoeming vir die Regterlike Dienskommissie goed
# Die voorverhoordatum is vasgestel vir Nosiviwe Mapisa-Nqakula se korrupsie-verhoor
# En, rugby: Die Bokke teiken die afbreekpunte sodat Ierland nie die spel kan vertraag nie
# Die Nasionale Vergadering het ‘n mosie goedgekeur vir die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe, om in die Regterlike Dienskommissie te dien ondanks besware van die DA, die ACDP en die VF Plus. Sy benoeming het gemengde reaksie ontlok nadat hy as regter-president van die Wes-Kaap afgedank is omdat hy probeer het om regters van die Konstitusionele Hof te beïnvloed in ‘n saak van oudpresident Jacob Zuma. Die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, sê Hlophe is geskik weens sy doktorsgraad van Cambridge:
# Die voorverhoordatum vir die gewese speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se korrupsiesaak is vir 16 Oktober vasgestel in die Hooggeregshof in Pretoria. Sy is uit op borgtog van 50-duisend-rand. Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery. Sy word daarvan beskuldig dat sy twee-miljoen-rand se omkoopgeld ontvang het van ‘n kontrak toe sy minister van Verdediging was. Mapisa-Nqakula word alleen aangekla nadat die staat besluit het om nie enigiemand anders te vervolg nie.
# Suid-Afrika se toerisme-sektor word ontwrig deur uiterste weerstoestande, insluitend oorstromings en ‘n tornado. Die navorser Kaitano Dube sê die toestande, aangevuur deur stygende globale temperature, het kus-infrastruktuur en toerisme-aantreklikhede beskadig. Kusgebiede, veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap, is erg geraak en het ‘n invloed op gastehuise, hotelle en avontuur-bestemmings. Binnelandse gebiede soos die Kruger-wildtuin ondervind erge droogte en oorstromings wat toerisme-infrastruktuur en ekonomiese potensiaal benadeel.
# Die manslagverhoor van die Hollywood-akteur, Alec Baldwin, oor die skietvoorval op die stel van ‘n Western-fliek begin vandag met die samestelling van ‘n jurie wat moet beslis of die dood van ‘n lid van die span van “Rust” sy skuld was. Baldwin het tydens ‘n repetisie ‘n rekwisietrewolwer op die fotograaf Halyna Hutchins gerig. ‘n Lewendige ronde is afgevuur wat haar noodlottig getref en die regisseur gewond het. Volgens aanklaers was hy roekeloos en het hy sy weergawe herhaaldelik verander sedert die tragiese voorval in Oktober 2021.
# Rugby: Die afbreekpunte sal ‘n groot fokuspunt wees vir die Springbokke wanneer hulle Saterdag in Durban in die tweede en laaste toets teen Ierland speel. Die Bokke het in die eerste kragmeting 27-20 geseëvier ten spyte van ‘n verbete poging van die Iere om die bal by die afbreekpunte te vertraag. Aanvalsafrigter Tony Brown sê Suid-Afrika moet meer akkuraat wees om beter aanvalsgeleenthede te skep:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-571-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-364-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….