Nuus 14:00
BULLETIN 4 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se Gautengse adjunk-speaker gaan bedank
# Motorsport: ‘n Jong Britse sensasie kry ‘n voltydse F1-pos by Haas
# En, Britse honde, en hier en daar ‘n kat, staan tou by die stembusse
# Die DA se leier in Gauteng, Solly Msimanga, het bevestig die party se adjunk-speaker in die provinsiale wetgewer, Refiloe Ntsekhe, gaan bedank. Dit volg op die DA se besluit om nie aan te sluit by die provinsiale regering van eenheid nie nadat samesprekings ineengestort het. Premier Panyaza Lesufi het gisteraand ‘n nuwe uitvoerende raad aangekondig sonder enige DA-lede. Msimanga sê hulle sal nou die amptelike opposisie in die wetgewer wees:
# Die GOOD Party in die Wes-Kaap sê die aanstelling van sy gewese raadslid, Shireen August, in die kantoor van Kaapstad se burgemeester klink na nepotisme en kaderontplooiing. Haar man, Shaun August, is geskors as die party se nasionale organiseerder en provinsiale lid van die wetgewer. GOOD se woordvoerder, Siyabulela Mamkeli, sê die DA en Stad Kaapstad moet August se aanstelling aan die publiek verduidelik:
# China het bevestig ‘n gewapende aanval in die Demokratiese Republiek die Kongo het die dood van verskeie van sy burgers veroorsaak, terwyl ander vermis word. Plaaslike bronne het aan die nuusagentskap AFP gesê minstens vier Chinese burgers is dood in ‘n burgermagaanval op ‘n myn-perseel in die goudryke Ituri-provinsie. Beijing se Ministerie van Buitelandse Sake sê gewapende magte het ‘n privaat Chinese onderneming in die DRK aangeval. Die aantal burgers wat geraak is, is nie genoem nie.
# Motorsport: Die jong Britse jaer Oliver Bearman sal van volgende jaar af voltyds aan Formule Een deelneem met ‘n kontrak by Haas. Die 19-jarige het in Maart beïndruk toe hy Carlos Sainz van Ferrari op die Grand Prix in Saoedi-Arabië vervang het toe die Spanjaard ‘n blindederm-operasie moes ondergaan, en het sewende geëindig. Dit het hom die derde jongste jaer in die geskiedenis van F1 gemaak. Haas gebruik Ferrari-enjins. Bearman het in 2021 by die Italiaanse span se akademie aangesluit en van toe af gevorder deur F4, F3 en F2.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-431-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-357-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-75-sent per vat.
# En, dit lyk asof vandag se stemproses vir talle Britte ‘n gesinsaak is. Hulle verduidelik daarmee die beginsels van die demokrasie aan hulle kinders, maar neem ook hulle troeteldiere op ‘n uitstappie. Die wollerige hond Luna was een van die eerstes wat opgedaag het by ‘n stembus in die suidweste van Londen. George die spanjoel was ook in Londen te sien saam met sy eenjarige mens-sussie, Darcey, waar hulle ouers gestem het. Selfs katte het meegedoen, met die vriendelike Louie wat buite ‘n stemlokaal in Buckinghamshire opgemerk is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….