Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Direktoraat van Prioriteitsmisdaadondersoeke maak aansienlike vordering met misdaadbekamping
# Lesufi bevestig onderhandelings vir die Gautengse regering is afgehandel
# En, sokker: Voormalige Kameroen internasionale speler Landry Nguemo dood in motorongeluk
# Die Direktoraat van Prioriteitsmisdaadondersoeke het aansienlike vordering aangemeld in die vierde kwartaal van die 2023/2024-boekjaar met die bekamping van misdaad. Die Valke het op ‘n nuuskonferensie hul prestasies uitgelig, insluitend die arrestasie van 547 verdagtes vir bedrog, korrupsie en aanvalle op die polisie. Bedrog het bygedra tot die hoogste aantal arrestasies. Die Valke se hoof, Godfrey Lebeya, sê Gauteng het die meeste arrestasies aangeteken, gevolg deur Noordwes:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê onderhandelings vir provinsiale kabinetslede is afgehandel. Lesufi het Sondag die aankondiging van die provinsiale kabinet uitgestel met verwysing na ingewikkelde gesprekke. Lesufi het bykans twee weke sedert sy herverkiesing, nog nie sy uitvoerende bestuur aangekondig nie. Hy het tydens ‘n elektrifiseringsprojek in Kromdraai, Mogale City, die versekering gegee die aanstellings sal binnekort aangekondig word, hangende die nasionale regering se goedkeuring:
# bp Suidelike Afrika het 2,5-miljoen-rand geskenk om 100 student aan die Noordwes-universiteit te help om uitstaande klasgeld te vereffen om die arbeidswêreld met selfvertroue te betree. Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, het vroeër in antwoord op ‘n vraag in die parlement gesê 56-duisend-627 studente aan die NWU se klasgeld is uitstaande. Die rektor en visekanselier, professor Bismark Tyobeka, sê talle talentvolle studente het ‘n tragiese tekort wat dringend aangespreek moet word. Tyobeka sê hulle is dankbaar teenoor bpSA vir die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika.
# Sokker: Die 38-jarge voormalige internasionale speler van Kameroen, Landry Nguemo, is gister in ‘n motorongeluk dood. Die Voetbalfederasie van Kameroen het dit op Facebook bekendgemaak. Die middelveldspeler kom van Yaounde en het tussen 2006 en 2014 in 42 wedstryde vir Kameroen drie doele aangeteken. Hy was in sy klubloopbaan meesal in Frankryk en het as ‘n 16-jarige by die akademie van AS Nancy-Lorraine begin. Hy was ook in Turkye en Noorweë voor sy terugkeer na die Onder 16’s in Nancy om sy kennis en ervaring met kinders te deel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-402-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-82-sent per vat.
# Ten slotte: Die Amerikaanse akteur Bill Cobbs het in die ouderdom van 90 gesterf. Hy was veral bekend vir sy rolle as die veiligheidswag Reggie in die 2006-rolprent Night At The Museum, en as Whitney Houston se bestuurder Bill Devaney in die 1992-rolprent, The Bodyguard. Sy agent het aan die PA-nuusagentskap gesê die veteraan-akteur is Dinsdagaand in die Inland Empire in Kalifornië, dood. Cobbs was omring deur sy familie en is vermoedelik aan natuurlike oorsake dood. Sy TV-rolle het verskynings op The Sopranos, The West Wing, Sesame Street en ER ingesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….