Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Magashule se voormalige assistent beroep haar op VSA minister van Buitelandse Sake om haar uitlewering te keer
# Verbetering van diagnoses by spreekkamers is noodsaaklik vir die instelling van Nasionale gesondheidsversekering
# En, padwedlope: Die voormalige Comrades-wenner Ann Ashworth is van haar pligte onthef as wedloopbestuurder
# Die persoonlike assistent van Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, Moroadi Cholota, vra die minister van Buitelandse Sake van Amerika, Anthony Blinken, om haar uitlewering te keer. Cholota beskuldig die staat van geestelike marteling. Sy is in April toegesluit omdat sy ‘n ooreenkoms om oor die asbes-bedrogspul teen Magashule te getuig, verloën het en bly sonder borgtog in aanhouding. Haar prokureur, Piet Tibane, voer aan haar aanhouding is onbillik aangesien ander beskuldigdes borgtog gekry het. Cholota se regspan sal teen 1 Julie ‘n memo aan Blinken voorlê.
# Die Universiteit van Pretoria sê Suid-Afrika se Nasionale Gesondheidsversekering sal die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwit bevorder om gesonde lewens en mense van alle ouderdomme se welstand te verseker. ‘n Diagnostiese kenner by die universiteit, professor Tivani Mashamba-Thompson, sê dit verseker dat individue mediese dienste ontvang sonder om finansiële probleme in die gesig te staar. Met Point-of-care-toetse hoef monsters nie na laboratoriums gestuur te word nie en dit verbeter behoeftige mense se toegang tot mediese dienste.
# Die Stad Kaapstad vra inwoners om verkiesingsplakkate aan te meld wat hulle in hulle buurte of op ritte deur Kaapstad opmerk. Die woordvoerder van die stad, Luthando Tyhalibongo sê hulle het die afgelope week plakkate regoor Kaapstad verwyder, maar hulle toegespits op die hoofpaaie en natuurskoon-roetes:
# Padwedlope: Die wenner van die Comrades in 2018, Ann Ashworth, is van haar pligte onthef as wedloop- en bedryfsbestuurder, sewe maande nadat sy daar begin het. Ashworth het op sosiale media aangedui die raad het ‘n probleem met haar gebrek aan leierskap en bestuursvaardighede. Sy verwerp die bewerings en sê sy het drie keer aangebied om te bedank, maar dis nie aanvaar nie. Ashworth is in November 2023 aangestel en het Rowyn James vervang. Sy het gedurende haar termyn ‘n borg bekom om prysgeld te verhoog asook bonusse vir elite atlete.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-140-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-80-sent per vat.
# Ten slotte: Shania Twain beplan om op ‘n gallop aan te kom vir haar buiging by Glastonbury deur te perd die Pyramid Stage te bestyg. Die ikoon van country-musiek volg in die voetspore van Dolly Parton, Diana Ross en Johnny Cash wanneer sy Sondag optree in die vooraanstaande legendes-afdeling. Die Kanadese sanger het aan BBC Breakfast gesê sy wil bittergraag op ‘n perd se rug opdaag. Twain word dikwels op sosiale media gesien saam met haar eie perde. Die Glastonbury-fees is die wêreld se grootste musiek- en uitvoerende kunstefees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….