Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa en die Nigeriese president Tinubu voer bilaterale gesprekke
# ‘n Verslag dui aan Gauteng sal die mees bevolkte provinsie in SA bly
# En, rugby: Die Bulle sal nie bes gee nie teen Glasgow Warriors in die VRK-eindstryd
# President Cyril Ramaphosa het gister by die Radisson Blu-hotel in Johannesburg privaat bilaterale samesprekings gevoer met die Nigeriese president, Bola Tinubu. Tinubu se besoek volg op Ramaphosa se inhuldiging. Tinubu het gewys op die behoefte om ekonomiese ontwikkeling te bespreek, asook samewerking oor veiligheid en stabiliteit in die streek. Ramaphosa was vol lof vir die jare lange samewerking tussen die twee lande wat gemik is op die verbetering van handel, beleggings en streeksintegrasie:
# Gauteng loop voor soos Suid-Afrika se bevolking 63,1-miljoen bereik, met vooruitskattings wat aandui dit sal die mees bevolkte provinsie bly. Die Wes-Kaap het intussen bestendige groei getoon, waarskynlik as gevolg van ekonomiese faktore. Volgens ‘n verslag van die Buro vir Marknavorsing, is daar na raming 15,4-miljoen mense in Gauteng, terwyl die Noord-Kaap die ylste bevolk bly met 1,4-miljoen mense. Daar word geskat 51-persent van die bevolking is vroue.
# ‘n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir wind wat skade aan die kus van Kaap Agulhas en die Overstrand kan aanrig. ‘n Sterk tot stormsterk weste- tot noordwestewind van 60 tot 80 kilometer per uur kan vanoggend voorkom en tot vanaand duur. Golwe van tot 4,5 meter hoog kan rowwe seetoestande veroorsaak en navigasieprobleme vir klein en private vaartuie veroorsaak en kan dit laat omslaan. Dit kan op plekke ook lei tot ontwrigtings in hawens en op strand-aktiwiteite.
# Die dodetal in die jongste voorval van besmette alkohol in die suidelike staat Tamil Nadu in Indië het tot 47 gestyg. Sowat 150 mense wat aan braking, maagkrampe en diarree gely het, moes behandel word nadat hulle ‘n metanol-mengsel gedrink het wat in die Kallakurichi-distrik gemaak is. Minstens 118 mense word nog in hospitale behandel. Die polisie het vier mense gearresteer vir onwettige alkoholverkope en beslag gelê op 200 liter van die drank. Die staat het tugstappe gedoen teen tien beamptes omdat hulle dit nie voorkom het nie.
# Rugby: Die Bulle sal glad nie bes gee nie in hulle tuiswedstryd môre teen die Glasgow Warriors in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap. Hulle wil die tweede Suid-Afrikaanse span word om die titel te wen. ‘n Oorwinning hou bykomende betekenis in vir Suid-Afrikaanse rugby. Dit sal bevestig die land is een van die beste in die wêreld nadat die span verlede jaar in Frankryk die tweede keer na mekaar die Wêreldbeker gewen het en die Haaie verlede maand die Uitdaagbeker verower het. Die wedstryd begin môreaand om ses-uur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-970-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….