Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen vra ‘n samesmelting van manifeste deur die regering van nasionale eenheid vir dienslewering
# Die IVP-leier Velenkosi Hlabisa loof die geskiedkundige nuwe regering
# En, rugby: Die televisiewedstrydbeampte kry groter verantwoordelikheid vir die Bok-toets
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, beklemtoon partye in die regering van nasionale eenheid moet hulle beleid laat saamsmelt om dienste aan Suid-Afrikaners te lewer. Steenhuisen het by die inhuldiging van president Cyril Ramaphosa by die Uniegebou in Pretoria die DA se verbintenis tot ‘n skoon, aanspreeklike regering, wat geen korrupsie duld nie, bevestig. Hy benadruk die behoefte aan deursigtigheid en eerlikheid om beleide en manifeste te implementeer:
Op sy beurt sê die leier van die IVP, Velenkosi Hlabisa, sê Suid-Afrikaners het lank gewag vir ‘n regering wat werk. Hy beskryf dit as ‘n geskiedkundige oomblik en sê die regering van nasionale eenheid is die wil van die kiesers, en nie volgens grondwetlike voorskrif nie. Hy gee die versekering die IVP sal aktief meedoen aan ‘n bestendige en verantwoordbare regering:
# Die Presidensie en die Staatsprokureur eis oudpresident Jacob Zuma moet rente betaal op die 28,9-miljoen-rand wat die regering opgedok het in sy korrupsiesaak. News24 berig Zuma staan tereg op 18 aanklagte oor die wapenskandaal en moet die regskoste terug betaal nadat die Hooggeregshof in Pretoria en die Appèlhof beslis het die staat is nie verantwoordelik vir sy regskoste nie. Die DA vra daar moet beslag gelê word op Zuma se pensioen indien hy nie die bedrag terugbetaal nie. Zuma se korrupsieverhoor sal volgende jaar vanaf April tot September plaasvind.
# Die president van Noord-Korea, Kim Jong Un, het tydens die eerste besoek van Vladimir Putin aan die land in 24 jaar, gesê hy steun Rusland se inval in Oekraïne “ten volle”. Die twee leiers het bande tussen die lande gehuldig met Putin se aankoms oornag. Die BBC berig die rooi tapyt is met Putin se aankoms uitgerol met rose, wuiwende skares en seremoniële geweervuur tydens ‘n reuse militêre parade. Die Russiese president het Kim bedank vir Noord-Korea se steun vir Rusland se beleid, insluitende die inval in Oekraïne.
# Rugby: Wêreld Rugby het bekendgemaak die magte van die televisiewedstrydbeampte vir Saterdag se toets tussen die Springbokke en Wallis, asook vir die komende Onder 20-kampioenskap in Kaapstad, is aansienlik uitgebrei. Die beheerliggaam het bevestig daar is ‘n aanvanklike geslote proeflopie met wysigings van die televisiewedstrydbeampte by kompetisies van Wêreld Rugby in Julie. Daarbenewens is Saterdag se twee wedstryde op Twickenham – die Springbokke teen Wallis en Fidji teen die Barbarians – ook deel van die proeflopie na versoeke deur die onderskeie unies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-156-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….