Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verduidelik die opdatering van die uitslagtelbord na die toewysing van setels
# ‘n Vuurwapenbeheerkenner getuig Malema is geskik om ‘n vuurwapen te besit
# En, sokker: Johannesburg bied volgende maand die trekking aan vir die Afcon 2025-kwalifisering
# Die Verkiesingskommissie het onsekerheid oor die onlangse verkiesingsuitslae opgeklaar. Die kommissie het bevestig kiesers het twee stembriewe vir die Nasionale Vergadering ontvang, een nasionaal en een vir die streek, asook ‘n provinsiale stembrief. Dit volg omdat die MK-party vra die verkiesing moet nietig verklaar word. Na deeglike ondersoek verseker die adjunkbestuurder van kommunikasie van die kommissie, David Mandaha, die publiek die uitslae is nougeset weergegee ondanks kommer op sosiale media:
# ‘n Vuurwapen-kenner, Martin Hood, het getuig die leier van die EFF, Julius Malema, mag ‘n vuurwapen besit want hy is nie onbevoeg verklaar nie. Hood het aan die Streekhof in Oos-Londen gesê die wet het Adriaan Snyman nie verhinder om tydens die vieringe van die EFF se vyfde bestaansjaar in 2018 ‘n vuurwapen aan Malema te oorhandig nie. Hood het benadruk dit sou slegs ‘n oortreding wees indien die vuurwapen gegee is om ‘n misdaad te pleeg:
# Die minister van Vervoer, Sindiswe Chikunga, oorhandig vandag in Centurion amptelik die Vryheid-en-Demokrasiebus aan die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni. Die bus se doel is om deur al nege provinsies te toer en Suid-Afrikaners deur verskeie aktiwiteite te betrek en te vertel van die regering se programme en prestasies die afgelope drie dekades. Chikunga en Ntshavheni sal op 30 jaar van vryheid en demokrasie in Suid-Afrika fokus tydens hulle interaksie met die media.
# Sokker: Johannesburg bied vroeg volgende maand die trekking aan vir die 2025 Afrika-nasiesbeker. Die vasteland se beheerliggaam CAF sê dit sal op 4 Julie gebeur in SuperSport se ateljee in Randburg. Die kwalifiserende wedstryde begin in September om die 24 lande te bepaal wat in Julie en Augustus volgende jaar gaan deelneem aan die toernooi in Marokko. Bafana Bafana het die bronsmedalje gewen in die vorige toernooi met hulle beste prestasie in 24 jaar. Die toernooi is toe gewen deur die gashere die Ivoorkus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-390-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-311-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-6-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Globale studie deur die Reuters-instituut aan die Oxford-universiteit het bevind meer mense keer die rug op nuus en beskou dit as neerdrukkend, meedoënloos en vervelig. Bykans vier uit tien mense wêreldwyd maak nou ‘n punt daarvan om die nuus te vermy, teenoor die 29-persent in 2017. Die verslag toon die oorloë in Oekraïne en die Midde-Ooste dra waarskynlik tot hierdie neiging by. Daarbenewens voel vroue en jonger mense in die besonder oorweldig. Vertroue in die nuus bly bestendig op 40-persent, maar dit is vier-persentasiepunte minder as gedurende die koronavirus-pandemie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….