Nuus 14:00
BULLETIN 28 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kenner waarsku oor ‘n hoërisiko-tydperk vir politieke sluipmoorde
# Die DRK het nou die naasgrootste Ebola-virusuitbreking in die wêreld
# En rugby: Ses nuwelinge is ingesluit in die Springbok-groep vir die Europese toer
# Minstens 43 mense is in die eerste nege maande van vanjaar dood in polities-gemotiveerde aanvalle in die aanloop tot die munisipale regeringsverkiesing. Dit is volgens die Globale Organisasie teen Oorgrens-georganiseerde Misdaad. ‘n Senior raadgewer, Julian Rademeyer, sê tien mense is net dié maand vermoor. Hy waarsku die moorde het ’n vernietigende uitwerking op demokrasie, aangevuur deur ‘n stryd om beheer oor rade, kontrakte en aanstellings. Rademeyer sê aanvalle is in sewe provinsies aangemeld, waarvan 16 voorvalle in KwaZulu-Natal was en tien in Gauteng.
Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA sê intussen spesiale betaaldatums vir November se maatskaplike toelaes is ‘n eenmalige reëling weens volgende Woensdag se verkiesing. Toelaes vir ouer persone sal Vrydag uitbetaal word, ongeskiktheidstoelaes Maandag en kindertoelaes Dinsdag. Toelaes wat tans hersien word, sal volgende Donderdag uitbetaal word, mits begunstigdes steeds kwalifiseer. SASSA se woordvoerder, Andile Tshona, sê betaaldatums vanaf Desember tot Maart bly onveranderd:
# ‘n Koalisie van burgerregte-organisasies, waaronder Fossil Free South Africa en die StopEACOP-koalisie, het ‘n amptelike klagte ingedien by die Advertensie-reguleringsraad waarin Standard Bank se omgewingsreklame as misleidend bestempel word. Woordvoerder Zaki Mamdoo sê hulle vra die reguleerder om Standard Bank se bewerings oor sy leiersrol in volhoubare befondsing en klimaatsoptrede deeglik te ondersoek, aangesien die bank steeds groot fossielbrandstofprojekte befonds, insluitend die Oos-Afrika-ru-oliepyplyn:
Nuus uit die buiteland:
# Die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo oorskry nou tien-duisend gevalle, wat dit die grootste in die land se geskiedenis maak. Dit is ook die tweede grootste uitbreking wêreldwyd. Die DRK het tienduisend-en-sestig gevalle aangemeld, met vierduisend-887 sterftes. Kenia en Nigerië het vroeër die maand hul eerste gevalle aangemeld wat met die huidige uitbreking verband hou. Die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming sê Afrika beskik oor die kundigheid en vermoë, maar dit moet vinniger gemobiliseer word om die siekte te stuit en lewens te red.
# Rugby: Ses nuwelinge kan volgende maand hul buigings vir Suid-Afrika maak in die Nasieskampioenskaps-wedstyde in Europa. Hulle is Yaqeen Ahmed, Sebastian de Klerk, Luan Giliomee, Markus Muller, Riley Norton en Emmanuel Tshituka. Springbok-afrigter Rassie Erasmus het 37 spelers aangewys vir die toetse teen Italië, Frankryk en Ierland. Hy is verheug om die belowende jong spelers te verwelkom en sê hul vertoning die afgelope twee seisoene het ‘n groot rol gespeel. Die ervare Bokke Cheslin Kolbe, Eben Etzebeth, André Esterhuizen en Handré Pollard is weens beserings nie beskikbaar nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-400-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-46-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….