Nuus 14:00
BULLETIN 23 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Nqakula verwerp bewerings dat hy apartheidsvervolgings wou stuit
# Israel berei voor vir ‘n volledige sluiting van die Wesoewer ná ‘n skietvoorval
# En rugby: Piardi hanteer in November nog ‘n Springbok-toets
# Die oudminister van Veiligheid en Sekerheid, Charles Nqakula, het voor die Khampepe-kommissie ontken dat hy pogings ondersteun het om vervolgings weens apartheids-gruweldade te staak. Hy sê dis diep beledigend dat beweer word hy of oudpresident Thabo Mbeki het geregtigheid vir Chris Hani en die Cradock Vier-aktivis Fort Calata belemmer. Nqakula onthou steeds die skok oor Hani se sluipmoord in 1993 en sê hy sou nooit die nagedagtenis van slagoffers ondermyn nie:
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het ‘n berig van Mail and Guardianverwerp wat ‘n kommunikasiekontrak van 30-miljoen-rand bevraagteken. SASSA sê die kontrak is beplan voor die waarnemende uitvoerende hoof, Themba Matlou, oorgeneem het en was bedoel om openbare kommunikasie oor al nege provinsies te versterk. Die agentskap sê die veldtog het begunstigdes inlig oor die migrasie van SASSA-gouekaarte na alternatiewe bankreëlings. SASSA hou vol die besteding ondersteun dienslewering, ontken persoonlike bevordering en sê die Openbare Beskermer het Matlou van vorige bewerings vrygespreek.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging waarsku motoriste betaaldag-naweke is van die gevaarlikste tye op Suid-Afrikaanse paaie. Meer as 27-persent van noodlottige botsings word met alkohol verbind, terwyl ongeveer 12-duisend mense jaarliks op die paaie sterf. Meer as die helfte van die slagoffers is voetgangers. MISA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê dronkbestuur sal slegs verbeter as mense ‘n bewustelike en persoonlike besluit neem om nie te bestuur nadat hul gedrink het nie:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se Weermag is opdrag gegee om voor te berei vir ‘n volledige sluiting van die besette Wesoewer nadat minstens vyf mense beseer is in ‘n skietvoorval naby Hebron. Israelse magte het twee vermeende Palestynse aanvallers doodgeskiet wat blykbaar verandwoordelik was vir die voorval. Eerste minister Benjamin Netanyahu het veiligheidsmagte opdrag gegee om Hebron af te sper en verdere beperkings op beweging in die gebied voor te berei. Padversperrings is reeds opgerig in nabygeleë Palestynse dorpe en veiligheidsoperasies duur voort.
# Rugby: Die Italiaanse skeidsregter Andrea Piardi is volgende maand weer in beheer van ‘n Springbok-toets na verlede maand se omstrede wedstryd teen die Wallabies in Perth, toe hy in die laaste tien minute vier geelkaarte aan Australië uitgedeel het. Hy hanteer die 13de die Bokke se Nasieskampioenskapstoets teen Frankryk in Parys. Suid-Afrika speel die vorige week in Turyn teen Italië, en die 21ste in Durblin teen Ierland. Die Skotse vroue-skeidsregter Hollie Davidson hanteer dieselfde dag die wedstryd tussen Frankryk en Argentinië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-614-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-24-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….