Nuus 14:00
BULLETIN 5 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat staan nie borgtog teen vir Zizi Kodwa en sy mede-beskuldigde nie
# EFF-leiers betwis hulle skorsing in die Wes-Kaapse Hooggeregshof
# En, krieket: Buttler is gefrustreerd nadat Engeland se Wêreldbeker-aanvangswedstryd uitgereën het
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, en die voormalige hoof van EOH, Jehan Mackay, is van plan om onskuldig te pleit op aanklagte van korrupsie wat verband hou met EOH Holdings. Kodwa word daarvan beskuldig dat hy 1,6-miljoen-rand se omkoopgeld van Mackay ontvang het. Hulle inhegtenisneming volg op die Zondo-kommissie se aanbevelings oor staatskaping. Die staat het die Landdroshof in Palm Ridge in Gauteng ingelig hy staan nie borgtog teen nie. Kodwa se regsverteenwoordiger, Zola Majavu, sê sy kliënt is bewus van die aard en erns van die aanklagte:
Die mans is elk borgtog van 30-duisend-rand toegestaan, en die saak is uitgestel tot die 23ste van volgende maand.
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof gaan ‘n aansoek deur die EFF-leier, Julius Malema, en ses ander parlementslede van die party aanhoor om hul skorsing van 30-dae sonder betaling te betwis. Die Magte- en Voorregte-komitee het Malema, Floyd Shivambu, Marshall Dlamini, Sinao Tambo, Mbuyiseni Ndlozi en Vuyani Pambo skuldig bevind aan minagting. Dit het gevolg nadat die senior leiers van die EFF verlede jaar tydens president Cyril Ramaphosa se staatsrede die verhoog bestorm het. Die EFF poog ook om die geldigheid van sekere reëls van die Nasionale Vergadering te betwis.
# Limpopo se Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het voor die begin van die inlywingseisoen aansoeke goedgekeur vir 631 skole. Die LUR, Basikopo Makamu, sê 72 aansoeke is afgekeur weens jurisdiksie-uitdagings. Makamu beklemtoon daar sal geen verdraagsaamheid wees vir onwettige inlywingskole nie. Drie jongmense is verlede jaar by onwettige skole dood. Die owerhede slaan toe om voldoening te verseker aan regulasies en die kulturele gebruik te beskerm. Die seisoen duur van volgende Vrydag tot 31 Julie.
# Krieket: Engeland se kaptein, Jos Buttler, het sy frustrasie uitgespreek nadat hulle aanvangs-T20-Wêreldbekerwedstryd teen Skotland in Barbados weens reën kortgeknip is. Skotland het 90 sonder verlies aangeteken toe die wedstryd beperk is tot tien boulbeurte per span, en die verdedigende kampioen se teiken op 109 gestel is. Reën het egter Engeland die kans ontsê om te begin kolf en die wedstryd is laat vaar. Beide spanne kry een punt. Buttler sê die aangepaste telling was bereikbaar:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 24-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-827-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-61-sent per vat.
# En, ‘n weerkundige verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, professor Francois Engelbrecht, waarsku ‘n Dag Zero-droogte in Gauteng hou die grootste bedreiging in vir dié provinsie se ekonomie. Hy sê klimaatmodelle voorspel haglike toestande wat meestal droër en warmer toestande insluit en wat bioverskeidenheid, landbou, watersekerheid en lewensbestaan ernstig bedreig. Hoewel damme in die provinsie vol bly, het die Stad Johannesburg gesukkel met infrastruktuur- en voorsieningsuitdagings weens wanbestuur. Engelbrecht beklemtoon die dringendheid om vir ongekende risiko’s voor te berei namate temperature wêreldwyd aanhou styg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….