Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mokonyane sê die ANC sal die land eerste plaas wanneer hy oor koalisies besluit
# Steenhuisen is gereed vir koalisiegesprekke om die ANC-regering uit die kussings te lig
# En, tennis: Novak Djokovic kan vandag Roger Federer se rekord ewenaar vir Grand Slam-wedstrydoorwinnings
# Die ANC se tweede adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, sê die party sal die land eerste plaas en die wil van kiesers respekteer wanneer hulle oor koalisievennote besluit. Dit volg nadat die verkiesingsuitslae die regerende party se steun ver onder 50-persent plaas. Mokonyane sê die Nasionale Uitvoerende Komitee sal vergader om te beraadslaag oor hulle reaksie op die verkiesingsuitslag:
Die DA-leier John Steenhuisen sê ondertussen hy is gereed vir koalisiegesprekke om die ANC-regering uit die kussings te lig. Hy het op ‘n media-inligtingsessie by die Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum in Midrand kiesers geloof nadat hulle vir die eerste keer in 30 jaar die ANC se meerderheid tot 40,2-persent laat krimp het. Steenhuisen benadruk die belangrikheid van ‘n nuwe bewind met eendersdenkende partye om Suid-Afrika te red en te hervorm:
Die ANC loop steeds voor op nasionale vlak terwyl die Verkiesingskommissie byna al die uitslae afgehandel het. Voorlopige uitslae toon die ANC het 40,26-persent, gevolg deur die DA met 21,69-persent en die MK-party met 14,68-persent. In KwaZulu-Natal loop MK voor met 45,32-persent, gevolg deur die IVP met 18,04-persent en die ANC met 17-persent. In Gauteng het die ANC 34,75-persent, gevolg deur die DA op 27,59-persent en die EFF met 12,9-persent. Die DA behou sy meerderheid in die Wes-Kaap met 55,3-persent, gevolg deur die ANC met 19,52-persent en die Patriotic Alliance met 7,82-persent van die stemme.
# Tennis: Novak Djokovic kan Roger Federer se rekord vir Grand Slam-wedstrydoorwinnings ewenaar as hy Lorenzo Musetti vandag by die Franse Ope klop. Die verdedigende kampioen sal gelyk trek met die uitgetrede Federer met 369 oorwinnings by die Slams as hy met die 30ste gekeurde Italianer afreken en deurdring na die laaste 16. Djokovic het Musetti reeds vier keer in vyf kragmetings verslaan. Die Italianer het die Serwiër in 2021 groot laat skrik by die Franse Ope toe hy twee stelle gewen het, maar beseer moes uittree in die beslissende stel.
# En ten slotte: Die minister van Landbou in Nederland, Piet Adema, oorweeg ‘n verbod op sogenaamde “woefiejoga” waar deelnemers babahondjies tydens oefensessies gebruik. Hy sê die diere ly. Woefiejoga kombineer tradisionele joga met wollerige hondjies en is baie gewild sedert dit enkele maande gelede in Nederland bekendgestel is, veral in Amsterdam. Adema is gekant teen die idee en sê die diere word dikwels wakker gemaak om in oefensessies gebruik word en talle honde toon tekens van stres.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….