Nuus 14:00
BULLETIN 11 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK is onder skoot oor die verkiesingskandidate-dataverbreking
# AZAPO sê neokolonaliste en apartheidsverdedigers duik op in Suid-Afrika
# En, figuurskaats: Die nasionale kampioenskap begin in Kaapstad
# Die Inligtingsreguleerder vra die Onafhanklike Verkiesingskommissie vir meer besonderhede oor ‘n sekerheidsverbreking waarby die vrystelling van die ANC en die uMkhonto we Sizwe Party se kandidatelys vir die verkiesing betrokke was. Die reguleerder het twee kennisgewings van die OVK gekry, maar beskou dit as onvoldoende ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting. Hy vra bewys van kennisgewing aan die partye wat geraak is en dat maatreëls getref moet word om die inligting van betrokkenes te beskerm. Die reguleerder wil vasstel of die OVK sy verpligtinge ten volle nagekom het.
In nog ‘n verwikkeling sê die sentrale komitee van die Azanian People’s Organisation die party is vasberade én vasbeslote om ‘n sukses te maak van die verkiesing op 29 Mei. Die party sal sy verkiesingsmanifes op 24 Maart in Bekkersdal aan die Gautengse Wes-Rand bekend stel. AZAPO se woordvoerder, Jabu Rakwena, sê hul verkiesingsveldtog-program is reeds aan die gang en fokus op die belangrikheid van die doeltreffende gebruik van die mag van ‘n stem:
# Eskom verhoog sy belegging in beplande onderhoud. Dit stem ooreen met die aanbevelings in ‘n internasionale verslag wat die Nasionale Tesourie aangevra het. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het die media vanoggend ingelig oor die Energie-aksieplan. Hy sê hy het vertroue in die werk wat tot dusver gedoen is om die krag-nutsmaatskappy na volhoubaarheid te laat terugkeer:
# Palestyne het begin om die heilige maand van Ramadan te gedenk te midde van ‘n uitdagende situasie weens die voorslepende konflik in Gaza. Die tekort aan humanitêre bystand vererger die probleme van die Palestyne, wat Ramadan gedenk deur te vas, te bid en aan gemeenskapsgeleenthede deel te neem. Dit het gelei tot hernude vrese van geweld in Jerusalem, met duisende Moslems wat na verwagting een van Islam se heiligste plekke, die al-Aksa-moskee, sal besoek. Duisende polisielede is om die Ou Stad in Jerusalem ontplooi om sekerheid te handhaaf.
# Figuurskaats: Die Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap vind van vandag tot Woensdag plaas by The Ice Station by GrandWest in Kaapstad. Die publiek kan van twee-uur vanmiddag tot tien-uur vanaand kort programme geniet van solo-danspatrone en ritmiese dans. Môre is daar nog solo-danse en gesinchroniseerde skaats, wat sal uitloop op die prysoorhandiging vir alle afdelings, behalwe dans. Woensdag eindig die kompetisie met nog figuurskaats. Kaartjies kos vandag en môre 75-rand per persoon, en Woensdag, 50-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-en-761-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….