Nuus 14:00
BULLETIN 17 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Afname in STEM-opvoeding bedreig die land se vermoë om in kennisgedrewe ekonomie mee te ding
# Rugby: Tandy vra ‘n fisiese aanslag deur Wallis in môre se toets teen die Bokke
# En die roete tussen Kaapstad en OR Tambo word aangewys as Afrika se besigste lugroete
# MANCOSA Academic sê die daling in Suid-Afrika se prestasie in Wetenskap-, Tegnologie-, Ingenieurswese- en Wiskunde-opvoeding is ‘n knaende kwessie. Wêreldstandaardmetings beoordeel die land as swak en benadruk stelseluitdagings vereis dringende aandag. Woordvoerder Andi Venter sê dit bedreig die land se vermoë om in ‘n kennisgedrewe ekonomie mee te ding. Sy sê talle leerders gaan universiteit toe belas met ongelyke skoolopleiding, swak wiskundige grondslag, beperkte toegang tot laboratoriums, taalhindernisse en onvoldoende loopbaanvoorligting:
Intussen sê die adjunkminister van Basiese Onderwys, Reginah Mhaule, kodering en robotika sal binne die volgende twee tot drie jaar in alle Suid-Afrikaanse laerskole bekendgestel word. Sy het op die bekendstelling van ‘n kunsmatige intelligensie-, koderings- en robotikasentrum ter waarde van 1,9-miljoen-rand in Gqeberha gesê die regering werk saam met die privaat sektor om tegnologie-opleiding uit te brei. Mhaule vra meer ondernemings om die program te ondersteun, asook befondsing vir landelike skole:
Nuus uit die buiteland:
# Iranse staatsmedia en ‘n Siriese militêre bron sê Iran het vroeër vandag die ooste van Sirië aangeval in die eerste bekende Iranse aanval op Siriese grondgebied sedert die Midde-Oosterse oorlog vroeër vanjaar begin het. Iran se Revolusionêre Wag sê hy het ‘n Amerikaanse bevelsentrum in Sirië aangeval as vergelding vir Iranse soldate wat in Iranshahr gesterf het. ‘n Siriese militêre bron het aan Reuters gesê Iran het ‘n aanval naby Tanf uitgevoer, maar het nie die basis self getref nie.
# Rugby: Die Walliese afrigter Steve Tandy wil ‘n deeglike fisiese aanslag sien wanneer sy span in môre se Nasieskampioenskap-ontmoeting teen die Springbokke in Durban te staan kom. Hy besef hulle gaan teen waarskynlik die mees fisieke span ter wêreld speel, en sê dis ‘n wonderlike geleentheid om hulself teen die wêreldkampioen te bewys. Tandy het ses veranderinge aan sy beginspan aangebring wat verlede naweek teen Argentinië verloor het, insluitend die versterking van sy pak. Kaptein Dewey Lake het ‘n laat fiksheidstoets geslaag en sal die span lei.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-95-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-994-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die roete tussen die Kaapstadse Internasionale Lughawe en OR Tambo in Gauteng was verlede jaar Afrika se besigste lughaweverbinding. Volgens die Internasionale Lugvervoervereniging se Wêreldlugvervoerstatistiek-verslag het ongeveer 3,4-miljoen passasiers tussen die twee bestemmings gereis. Die verslag sê die roete het alle ander lugroetes op die vasteland oortref. Asië is wêreldwyd die besigste lugroete, terwyl Amerika die wêreld se grootste passasierslugvaartmark bly, gevolg deur China en die Verenigde Koninkryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….