Nuus 14:00
BULLETIN 14 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA neem Mettler se skorsing hof toe
# Lykskouings onthul Tshuma se gesin is dood weens stomp geweld
# En rugby: ‘n Engelse voorspeler is onder skoot op sosiale media ná sy rooikaart teen die Junior Bokke
# # Die DA het die Hooggeregshof dringend genader nadat Tshwane se raad stadsbestuurder Johann Mettler geskors en besluit het bewerings teen die finansiële hoof, Gareth Mnisi, is minder ernstig. Woordvoerder Cilliers Brink beweer die speaker het die uitslag van die stemming onregmatig verdraai deur stemme af te trek om die ANC en die EFF te bevoordeel. Hy wil hê die hof moet die oorspronklike uitslae herstel of ‘n nuwe raadsvergadering gelas:
# ‘n Senior ondersoeker van die Onafhanklike Direktoraat teen Korrupsie, Brian Padayachee, verwerp die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewering dat hy nie oor die vereiste kwalifikasies beskik nie. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het sy kwalifikasie as ondersoeker in 1998 verwerf en is ten volle gekwalifiseer vir die pos. Padayachee het die kommissie ook meegedeel hy het meer as 40 jaar ervaring in wetstoepassing en ondersoekwerk:
# Forensiese lykskouings het bevestig die vrou en dogters van ‘n Zimbabwies-Britse burger is in Engeland dood weens stomp geweld. Die liggame van Nothabo, Natalie en Nala Tshuma is verlede Maandag in hulle huis in Bedfordshire gevind. Nothabo se man, Ndodana, is Vrydag in Johannesburg aangekeer nadat hy uit Brittanje gevlug het. Hy bly in aanhouding nadat hy in die plaaslike Landdroshof verskyn het in verband met onwettige besit van ‘n vuurwapen terwyl sy uitlewering aan Brittanje oorweeg word. Die saak is uitgestel terwyl Tshuma se immigrante-status nagegaan word.
# Die Internasionale Maritieme Organisasie sê skepe wat deur die Seestraat van Hormoes vaar, behoort nie verpligte tolgeld te betaal nie. President Donald Trump het gesê die Amerikaanse Weermag gaan skeepsverkeer beskerm, maar eis Amerika moet vergoed word met 20-persent van die waarde van alle vrag. Iran het tolheffings in die seestraat geëis, maar ingestem om dit vir 60 dae te staak ingevolge die tussentydse ooreenkoms met Amerika. Die organisasie sê daar is geen regsbasis om verpligte tolgeld in te stel om deur die seestraat te vaar nie.
# Rugby: Engeland se junior voorspeler, Seb Kelly, is hewig gekritiseer vir ‘n oomblik van waansin wat waarskynlik hul kanse beëindig het om die Junior Springbokke te klop in die halfeindstryd van die Junior Wêreldkampioenskap in Tsibilisi, Georgië. Hy is in die 32ste minuut afgestuur met ‘n permanente rooikaart nadat hy die Suid-Afrikaanse heelagter Luan Giliomee met die kop gestamp het. Engeland het op daardie tydstrip 17-7 voorgeloop, maar uiteindelik 53-37 verloor. Kelly se optrede is op sosiale media beskryf as ongelooflik dom, uiters onsinnig en absoluut verfoeilik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-613-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-16-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 85-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….