Nuus 14:00
BULLETIN 13 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geregtelike doodsondersoek na Anele Tembe se dood word tot September uitgestel
# ActionSA in Johannesburg sê die vullisverwyderingskrisis is die prys wat inwoners betaal ná jare se wanbestuur
# En rugby: Vier nuwe Bokke pak Wallis Saterdag in Durban
# Die Kaapstadse Landdroshof het die geregtelike doodsondersoek na Anele Tembe se dood tot 7 September uitgestel weens die voorsittende landdros se siekte. Die ondersoek volg vyf jaar na Tembe se noodlottige val van die tiende verdieping van die Pepperclub Hotel. Ses getuies sal na verwagting getuig terwyl die hof die omstandighede rondom haar dood ondersoek. Intussen sê die pa van die vermoorde kletsrymer Kiernan Forbes, Tony, hy glo nie sy seun het sy destydse verloofde vermoor nie. Hy verwelkom ook die hof se ondersoek van die bewyse.
# Die gesin van die ontslape Suid-Afrikaanse onder 18-rugbyspeler, Luqobo “Bibo” Makwedini, berei voor om na Frankryk te reis om sy liggaam huis toe te bring. Die jong speler, wat op ‘n drie-jaar-kontrak by die Franse klub Béziers was, is Saterdag weens ontwatering en hitte-uitputting dood ná ‘n oefening vroeër die oggend. Hy is inderhaas hospitaal toe geneem, maar het later gesterf. ‘n Familie-woordvoerder het aan SABC News gesê die gesin is tans besig met die nodige reëlings om sy liggaam na Suid-Afrika te repatrieer.
# ActionSA in Johannesburg sê die vullisverwyderingskrisis is nie meer bloot ongerieflik nie. Nandi Ndaba van die party sê terwyl Pickitup ‘n onbeskermde staking ondervind te midde van voortdurende arbeidsgeskille, personeeltekorte en bedryfs-onbestendigheid, wonder duisende huishoudings wanneer hul vullis verwyder sal word. Sy sê in baie gemeenskappe hoop vullis aanhoudend op op sypaadjies en voor skole en winkelsentrums:
# Die DA vra ‘n nasionale ondersoek na staatsdepartemente se beweerde versuim om kinderverkragtingsake aan te meld en te vervolg. Angel Khanyile van die DA sê bewyse wat by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien is, dui op swak nakoming van verpligte aanmeldingswette, swak ondersoeke en swak koördinering tussen departemente. Sy sê die mislukkings laat oortreders toe om geregtigheid te ontsnap, en vra verbeterde stelsels om kinders beter te beskerm:
# Rugby: Die stut Carlu Sadie, die slot Ruben van Heerden, die vleuel Jaco Williams en die losskakel Vusi Moyo sal almal Saterdag die eerste keer vir die Springbokke uitdraf nadat hulle in Rassie Erasmus se beginspan ingesluit is vir die Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Wallis in Durban. Moyo en Cobus Reinach is die skakelpaar, terwyl kaptein Pieter-Steph du Toit saam met Paul de Villiers en Jasper Wiese die los-trio sal vorm. Erasmus sê Wallis maak goeie vordering en sal hierdie naweek ‘n punt wil bewys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-56-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-68-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….