Nuus 14:00
BULLETIN 10 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom se hoof verdien 11,7-miljoen-rand terwyl die onderneming terugkeer na winsgewendheid
# Solidariteit daag Tshwane uit oor die stadsbestuurder se skorsing
# En rugby: Die ervare Tommaso Allan en Louis Lynagh is ingesluit in Italië se beginspan teen die All Blacks
# Eskom se uitvoerende groepshoof, Dan Marokane, het in die vorige boekjaar ‘n vergoedingspakket van 11,728-miljoen-rand ontvang. Die nutsmaatskappy sê die pakket weerspieël prestasie ná die terugkeer na winsgewendheid, met ‘n wins voor belasting van 23,9-miljard-rand. Werknemerskoste het tot 45,4-miljard-rand gestyg, insluitend 5,4-miljard-rand vir prestasie-aansporings wat daarop gemik is om kritieke vaardighede te behou. Eskom ondervind steeds groot finansiële uitdagings ondanks bedryfswinste, insluitend 111-miljard-rand se munisipale skuld en 254-miljard-rand se staatskuldverligting.
# Solidariteit daag die Stad Tshwane uit oor die voorlopige skorsing van die munisipale bestuurder, Johann Mettler. Die vakbond sê hy het die metro formeel versoek om die onregmatige proses te staak en oorweeg dringende hofstappe. Anton van der Bijl van Solidariteit voer aan die skorsing is irrasioneel, ongrondwetlik en polities gemotiveerd. Hy sê Mettler is geskors hangende ‘n onafhanklike ondersoek:
# Die vakbondfederasie COSATU steun sy geaffilieerde vakbond, SACCAWU, in die teenkanting van Sun International se afleggingsproses. Zanele Sabela van COSATU beweer afleggings is deurgevoer voordat die raadplegingsproses afgehandel is, teenstrydig met die Wet op Arbeidsverhoudinge. Sy sê SACCAWU sal regstappe oorweeg om werkers wat geraak word se belange te beskerm en vra Sun International om die afleggingsproses op te skort:
# Die Suid-Afrikaanse regering en die Verenigde Nasies het vandag in Pretoria ‘n vyfjaar-samewerkings-raamwerk-ooreenkoms onderteken ter ondersteuning van die land se ontwikkelingsdoelwitte en Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte. Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, het die ooreenkoms namens Suid-Afrika onderteken, terwyl die VN se inwonende koördineerder, Nelson Muffuh, die organisasie verteenwoordig het. Die ooreenkoms geld van vanjaar tot 2030 en het ten doel om inklusiewe ekonomiese groei te bevorder, ongelykheid te verminder, instellings te versterk en die omgewing te beskerm.
# Rugby: Die ervare heelagter Tommaso Allan en Louis Lynagh sal in Italië se beginspan speel wanneer hulle die onbegonne taak aanpak om die All Blacks die eerste keer ooit te klop in môre se Nasieskampioenskaps-wedstryd in Wellington. Die 33-jarige Allan sal sy 91ste toets vir die Azzurri speel nadat hy van die bank af gekom het in verlede week se nederlaag teen Japan in Tokio. Die Suid-Afrikaans-gebore flank Ross Vintcent begin op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-361-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-108-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….