Nuus 14:00
BULLETIN 9 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie hoor die polisie het die afgelope vyf jaar leefstyloudits oorgeslaan
# Hormoes se skeepsverkeer kom feitlik tot stilstand ná Amerikaanse en Iranse aanvalle
# En rugby: Moodie sê hulle is gereed vir Skotland se gevaarlike aanval
# Die Madlanga-kommissie het gehoor die Polisiediens het die afgelope vyf jaar nie ‘n enkele volledige leefstyloudit uitgevoer nie. Die teen-korrupsie-deskundige, Albertus Schoeman, getuig die polisie het slegs staatgemaak op leefstyloorsigte en -ondersoeke. Hy sê oorsigte vergelyk verklaarde bates met inkomste, terwyl ondersoeke fokus op moontlike onverklaarde welvaart of onregmatige inkomste. Schoeman sê geen sake is gedurende die oorsigtydperk verwys vir ‘n volwaardige leefstyloudit nie:
# Die munisipale vakbond SAMWU eis dat die Nasionale Tesourie sy besluit omkeer om befondsing aan 69 munisipaliteite tydelik te weerhou. SAMWU se hoofsekretaris, Dumisane Magagula, sê dit sal reeds sukkelende owerhede nader aan ineenstorting bring, met verwoestende gevolge vir werkers, gemeenskappe en noodsaaklike openbare dienslewering. Hy sê munisipale werkers kan nie aanspreeklik gehou word vir die finansiële wanbestuur wat plaaslike regering teister nie:
Nuus uit die buiteland:
# Skeepsverkeer deur die Seestraat van Hormoes het feitlik tot stilstand gekom nadat Amerika Iran die tweede agtereenvolgende dag aangeval het, wat die brose skietstilstand toenemend wankelrig laat lyk. Skeepsnasporings-data toon waarneembare bewegings in die wêreld se belangrikse energie-roete kom grootliks voor in die noorde, wat deur Iran beheer word, terwyl dit stil is in die roete langs Oman, wat deur Amerika gesteun word. Sowat 14 vaartuie het die seestraat gister oorgesteek, wat die minste is sedert die tussentydse skietstilstand middel verlede maand van krag geword het.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Canan Moodie sê hulle verwag Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria ‘n taai stryd teen ʼn gevaarlike Skotse span in die tweede ronde van die Nasieskampioenskap. Suid-Afrika het Engeland verlede naweek in die eerste ronde 45-21 afgeransel, terwyl Skotland Argentinië 47-38 verslaan het. Moodie, wat die 25ste keer vir die Bokke sal uitdraf, sê hulle is gereed vir ʼn verbete stryd in die lug:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-904-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-105-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: Die EFF prys die Universiteit van Pretoria se bekendstelling van sy Degrees Delivered-veldtog. Dis ʼn driejaar-fondsinsamelingsprojek om geleenthede te skep vir gegradueerdes wat weens geskiedkundige studieskuld nie hul kwalifikasies ontvang nie. Die doel is om tussen vanjaar en 2028 50-miljoen-rand in te samel om gegradueerdes wat kwalifiseer se studieskuld te betaal. Die EFF sê geskiedkundige studieskuld is een van die grootste struikelblokke in die pad van jongmense se deelname aan die ekonomie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….