Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA kritiseer Rise Mzansi se verkiesingsveldtog-taktiek
# Die OVK in Limpopo bring meer as 90-duisend tuisbesoeke vir spesiale stemme
# En, krieket: Jos Buttler gaan die derde T20 teen Pakistan misloop
# ActionSA het Rise Mzansi beskuldig van betaalde SMS-veldtogte wat kiesers versoek om hulle nie te ondersteun nie. Die SMS dui aan ‘n stem vir ActionSA is ‘n stem vir die DA. ActionSA sê terwyl Rise Mzansi homself as ‘n nuwe politieke mag voordoen, wend hulle ou taktieke aan deur negatiewe veldtogte. Hulle voer aan Rise Mzansi se fokus om ander partye aan te val, eerder as om sy eie platform te bevorder, ondermyn sy geloofwaardigheid. Michael Beaumont van ActionSA moedig Rise Mzansi aan eerder deel te neem aan opbouende politieke dialoog as om negatiewe aanvalle te loods:
Die Verkiesingskommissie in Limpopo berig 96-duisend mense het vir tuisbesoeke aansoek gedoen vir spesiale stemme voor môre se algemene verkiesing. Vandag is die laaste dag om ‘n spesiale stem uit te bring. Die provinsiale kiesbeampte, Nkaro Mateta, wys daarop die meerderheid van hierdie aansoeke is in Thulamela en Vhembe. Sy gee ook die versekering die kwessie van party-agente wat ver van kieslokale weg gehou word, sal opgelos word.
# Cosatu het Eskom, munisipaliteite en hul werknemers gelukgewens met die indrukwekkende verbetering in Eskom se energie-beskikbaarheidsfaktor. Dit het die eerste keer in meer as drie jaar 70-persent oorskry. Matthew Parks van Cosatu sê hierdie beduidende verbetering het gesorg dat die ekonomie vir langer as twee maande die gevolge van beurtkrag gespaar is. Hy sê dit is die gevolg van Eskom se instandhouding van sy bestaande opwekkingsvloot sowel as die beskikbaarheid van nuwe opwekkingsvermoë:
# Krieket: Engeland se kaptein, Jos Buttler, sal nie vandag in Cardiff, Wallis, in die derde T20-kragmeting teen Pakistan speel nie. Hy is met vaderskapsverlof vir die geboorte van sy derde kind. Moeen Ali sal die span lei, met Jonny Bairstow of Phil Salt as paaltjiewagter. Engeland het die tweede wedstryd gewen nadat die eerste een weens reën afgelas is. Die laaste wedstryd vind Donderdag plaas. Die reeks dien as voorbereiding vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat Saterdag in die Karibiese Elande en Amerika begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-753-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-7-sent per vat.
# Ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Internasionale Fees van Dokumentêre Rolprente, Encounters 2024, het Mother City as sy openingsrolprent aangekondig. Die prent deur Miki Redelinghuys en Pearlie Joubert ondersoek Reclaim the City se stryd om stedelike ruimtes in Kaapstad te vestig. Aktiviste soos Nkosikhona Swartbooi het langer as ses jaar magtige eiendomsmaatskappye teengestaan om regverdige behuising daar te stel. Plaaslike en internasionale rolprente wat ‘n werklike uitwerking gehad het, sal volgende maand in verskeie teaters in Kaapstad en Johannesburg te sien wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….