Nuus 14:00
BULLETIN 8 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie laat getuienis agter geslote deure toe
# Die GOOD-party sê Tony Leon se steunwerwing namens privaat ondernemings kan nie staatskaping genoem word nie
# En rugby: Loftus se losiehouers is woedend vir SARU oor bykomende betaling vir toetse
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, Mbuyiseli Madlanga, het Getuie M se aansoek goedgekeur om weens veiligheidsredes agter geslote deure te getuig. Die sakeman, wat verbind word met ‘n reuse-dwelmbeslaglegging, sê hy word agtervolg en ontvang dreigoproepe. Sy getuienis sal na verwagting beweerde bande tussen georganiseerde misdaad, dwelmsindikate, polities-verbonde mense en lede van die uitvoerende gesag blootlê. Madlanga sê dis nog nie seker wanneer die volgende openbare verhore sal plaasvind nie:
# ‘n Kenner van plaaslike regerings-begrotingsontleding, Jan Hattingh, sê baie munisipale rade keur steeds onbefondse begrotings goed en verhoog druk op hulle reeds brose geldsake. Hy het ‘n nuuskonferensie toegespreek nadat die Tesourie gister aangekondig het fondse word weerhou van 69 munisipaliteite vir nie-voldoening aan die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Hattingh het rade gevra om realistiese, befondse begrotings te aanvaar in ooreenstemming met beskikbare inkomste en uitgawe-vooruitskattings om geldsake te verbeter:
# Die GOOD-party sê die voormalige DA-leier Tony Leon se steunwerwing by politici namens privaat kliënte kan nie as staatskaping bestempel word nie, tensy kliënte buitengewone sukses behaal het met die verkryging van staatstenders of die bepaling van regeringsbeleid. Sy skakel- en kommunikasie-onderneming, Resolve Communications, het na bewering probeer om vergaderings tussen sy kliënte en ministers te reël. Woordvoerder Brett Herron sê Leon sou waarskynlik in Kaapstad die meeste invloed kon uitoefen:
# Spanning tussen Suid-Afrika en Mosambiek het na toeristegebiede oorgespoel, met sommige Suid-Afrikaanse besoekers wat voorgekeer en aangesê is om Mosambiek te verlaat. Dit volg op betogings teen onwettige immigrante in Suid-Afrika wat volgens berigte die lewens van Mosambiekse burgers geëis het. Mosambiek het sedertdien meer as 900 burgers uit Suid-Afrika gerepatrieer. Video’s op sosiale media het verdeelde reaksies ontlok, met sommige wat botsings veroordeel en ander wat vergelding steun. President Filipe Nyusi het steun beloof vir terugkerendes omdat die meerderheid hul huise, ondernemings, besittings en dokumente verloor het.
# Rugby: Losie-eienaars op Loftus Versfeld in Pretoria is woedend vir SA Rugby omdat hulle gedwing word om meer te betaal vir die gebruik van losies tydens toetse. Hulle sê hulle betaal reeds duisende gedurende die seisoen, en SARU vra nog 100-duisend-rand per toets. SARU dwing blykbaar ook sy eie spysenieringsdienste op hulle af. Ongelukkigheid oor hoë kaartjiepryse het reeds daartoe gelei dat tien-duisend sitplekke leeg was tydens verlede naweek se toets tussen die Springbokke en Engeland op Ellispark. Die Bokke speel hierdie naweek op Loftus teen Skotland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-23-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-49-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….