Nuus 14:00
BULLETIN 7 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie bekyk WhatsApp-boodskappe tussen Khan, Malema en Sayed
# Sokker: Cristiano Ronaldo sê hy sal nie oorhaastig besluit oor sy toekoms by Portugal nie
# En UNICEF sê kinders in Gaza ken net oorlog, ontworteling en verlies
# Die Madlanga-kommissie het beweerde WhatsApp-boodskappe ondersoek wat die senior polisie-offisier Feroz Khan, die EFF-leier Julius Malema en die sakeman Mohamed Sayed betrek. Getuienisleier Michael Chaskalson sê dit dui aan Sayed het in Junie 2021 inligting aan Khan gestuur op Malema se versoek. Die boodskappe is nog nie as bewyse getoets nie. Chaskalson sê dit het onder meer plakkate van Operation Dudula se veldtog teen onwettige immigrante ingesluit:
# Die Suid-Afrikaanse Energiehandelaarsvereniging sê die hervormings in die elektrisiteitsmark het ‘n kritieke stadium bereik, met die Nasionale Energiereguleerder wat belangrike regulasies afhandel. Die markkode en handelsreëls sal bepaal hoe elektrisiteit gekoop en verkoop word en hoe privaat beleggings in die sektor sal vloei. Die vereniging waarsku vertragings kan hervorming belemmer en energie-sekerheid beïnvloed. Hy vra duidelike en beleggingsvriendelike reëls om privaat kragopwekking moontlik te maak, mededinging te bevorder en Suid-Afrika se oorgang na ‘n mededingende elektrisiteitsmark te vergemaklik.
# Turkish Airlines sal vanaf einde Oktober meer vlugte aanbied op sy roetes tussen Istanboel en Johannesburg, en tussen Istanboel en Kaapstad. Die lugredery voeg drie weeklikse vlugte by op elke roete om aan die stygende seisoenale vraag te voldoen, wat die getal vlugte op 20 per week te staan bring. Die bykomende vlugte word tot einde Maart volgende jaar aangebied. Die uitbreiding sal na verwagting toerisme, sakereise en vragvervoer tussen Suid-Afrika en Turkye bevorder, terwyl dit ook internasionale verbindings deur Istanboel se internasionale spilpunt sal verbeter.
# Sokker: Die 41-jarige Cristiano Ronaldo sê hy het tyd nodig om sy toekoms by Portugal te oorweeg nadat sy land uit die Wêreldbekertoernooi geskakel is deur ‘n nederlaag van 1-0 teen Spanje, wat dit sy laaste wedstryd in die kompetisie gemaak het. Portugal se afrigter, Roberto Martinez, het terselfdertyd sy bedanking aangekondig. Ronaldo sê hy het 23 jaar lank vir die nasionale span gespeel en drie titels verower. Hy benadruk om die Europese kampioenskap in 2016 te wen was soos om die Wêreldbeker te verower.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-317-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-136-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies se kinderfonds, UNICEF, sê kinders betaal steeds die hoogste prys in Israel se oorlog in Gaza wat reeds langer as ‘n duisend dae voortwoed. Die dodetal het 73-duisend-98 bereik sedert dit in Oktober 2023 losgebars het. Verslae dui aan meer as 60-duisend kinders is dood of beseer. UNICEF se woordvoerder, Louise Wateridge, sê kinders is dood, ontwortel en ontneem van noodsaaklikhede om te kan oorleef, groei en herstel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….