Nuus 14:00
BULLETIN 2 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê voorgestelde wysigings aan die regulasies vir vuurwapens en privaat sekerheid moet onttrek word
# Die Zimbabwiese president sê burgers wat terugkeer huis toe sal ondersteun word
# En sokker: ‘n Voormalige Bafana-middelveldspeler meen Pitso Mosimane moet die nuwe afrigter word
# Die DA vra dat die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Regulering van die Privaat Sekerheidsbedryf en die Wysigingswet op die Beheer van Vuurwapens heroorweeg word. Dit sal bykomende vereistes op verskaffers van privaat sekerheid plaas oor die uitreiking, dra, berging en gebruik van vuurwapens. DA-woordvoerder Ian Cameron sê die wetgewing oor vuurwapenbeheer fokus op wettige vuurwapeneienaars en nie misdadigers nie, en die wysigings kan dalk bestaande vuurwapen-beheermaatreëls dupliseer:
# Die vakverbond Cosatu is bekommerd oor die moontlike gevolge van die veranderinge wat president Cyril Ramaphosa aan die regering van nasionale eenheid se uitvoerende bestuur gemaak het. Dis grootliks gedoen op versoek van die DA-leier, Geordin Hill-Lewis. Matthew Parks van Cosatu sê die aanstelling van Dina Pule as minister van Maatskaplike Ontwikkeling is uiters kommerwekkend gesien in die lig van die donker wolk waaronder sy voorheen as minister verwyder is:
# Die Stad Tshwane sê hy is op die voorpunt wat sy reaksie op inwoners se toenemende kommer oor onwettige immigrasie betref. Die metro het die afgelope 18 maande tientalle wetstoepassingsoperasies gelei en ongedokumenteerde immigrante vasgetrek. Tshwane se Metropolisie het Dinsdag toesig gehou oor vreedsame betogings teen onwettige immigrante. Burgemeester Nasiphi Moya sê hulle besef dat druk op die ekonomie en dienslewering inwoners raak wat hulpbronne met ‘n vinnig-groeiende bevolking moet deel.
Zimbabwe se president, Emmerson Mnangagwa, sê intussen sy regering is gereed om burgers te ondersteun wat uit Suid-Afrika terugkeer ná die betogings wat vrese onder buitelandse burgers veroorsaak het. Verskeie buurlande help tans burgers om terug te keer huis toe. Mnangagwa sê die Zimbabwiese regering sal maatskaplike beskerming, tydelike bystand en berading aanbied:
# Sokker: Die voormalige Bafana Bafana-middelveldspeler Alex Bapela meen dis tyd vir afrigter Hugo Broos om te vertrek, en Pitso Mosimane om hom op te volg. Mosimane het Suid-Afrika van 2010 tot 2012 afgerig en sy laaste afrigtingspos in Iran het verlede jaar geëindig. Broos se kontrak het verstryk met Bafana se uitskakeling uit die Wêreldbekertoernooi, maar hy is blykbaar bereid om aan te bly. Bapela sê dis tyd vir ‘n nuwe era en die beheerliggaam, SAFA, moet ‘n afrigter aanstel wat oor die langtermyn kan lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-69-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-67-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….