Nuus 14:00
BULLETIN 22 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Keir Starmer bedank as die Britse eerste minister en leier van die Arbeidersparty
# Data van die Sentrale Energiefonds dui op sterk brandstofprysverligting in Julie
# En rugby: Die Stormers-senter Dan du Plessis verhuis na Bordeaux in Frankryk
# Keir Starmer het bedank as Brittanje se eerste minister en leier van die Arbeidersparty en sê sy besluit is geneem om die land eerste te stel en te aanvaar sy party sal hom nie meer beskou as die beste leier in die volgende algemene verkiesing nie. Hy bly in die amp tot ‘n nuwe Arbeidersleier gekies word en vra dat die proses afgehandel moet wees voor die Parlement in September heropen:
Terug in Suid-Afrika
# Die EFF-leier, Julius Malema, waarsku binnegevegte tussen senior polisiebeamptes verswak Suid-Afrika se veiligheid in ‘n kritieke tyd. Hy het in die Emfuleni-munisipaliteit in Gauteng lede van die veiligheidsgroep gevra om saam te werk en vertroue te herbou. Malema sê verdeeldheid binne die Polisiediens kan geleenthede skep vir misdadigers om die land te ontwrig. Hy vra ook kalmte voor die beplande optog teen onwettige immigrasie op die 30ste:
Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het intussen die March and March-beweging se leier, Jacinta Ngobese-Zuma, gevra dat immigrante-kinders toegelaat word om die akademiese jaar te voltooi voor enige deportasie-prosesse uitgevoer word. Die teen-immigrantegroep pak die skuld vir oorvol Suid-Afrikaanse skole op die kinders van buitelanders en vra massa-deportasies. Makaneta sê kinders kies nie waar hulle gebore word nie en moenie gestraf word vir omstandighede buite hul beheer nie:
# Suid-Afrikaners kan vroeg volgende maand groot verligting verwag by brandstofpompe. Die jongste data van die Sentrale Energiefonds toon ‘n sterk oorverhaling in petrol- en dieselpryse. Daar is tans ‘n oorverhaling in petrolpryse van 2,94-rand per liter en tussen 4,57- en 4,97-rand per liter vir dieselpryse. Ontleders sê dit dui op noemenswaardige brandstofprysverlagings in Julie, onderhewig aan heffingsaanpassings. Dit volg ná wêreldwye konflik wat die land benadeel het, met strawwe brandstofpryse wat ondernemings, motoriste, lugdienste en die taxibedryf swaar getref het.
# Rugby: Die Stormers-senter Dan du Plessis sluit volgende maand by die Franse reus Bordeaux aan. Die 31-jarige is die seun van die oud-Springbok Michael du Plessis en broerskind van die Bokke Carel en Willie. Hy het sedert 2016 altesaam 31 wedstryde vir die Stormers gespeel en 35 vir Westelike Provinsie, en altesaam 110 punte aangeteken. Du Plessis het ‘n tweejaar-kontrak met die Europese kampioen gesluit. Die Engelse klub Sale Sharks het volgens berigte ook in sy dienste belanggestel, maar hy het hulle winsgewende aanbod van die hand gewys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-113-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-209-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….