Nuus 14:00
BULLETIN 11 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakevertroue herstel effens in Mei
# Die Oos-Kaapse premier sê sy regering sal March and March se versoekskrif oorweeg
# En atletiek: ‘n Amerikaanse tiener klop ‘n Olimpiese kampioen in Oslo
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid sê sy sakevertroue-aanwyser het verlede maand ‘n geringe herstel getoon en met 0,5-punte tot 124,1 gestyg ná ‘n skerp daling in April. Sakevertroue bly aansienlik hoër as ‘n jaar gelede, ondanks onlangse wisselvalligheid. Die kamer sê verbeterde voertuigverkope en uitvoervolumes het vooruitsigte versterk, terwyl dalende toeristegetalle en hoër inflasie vertroue onder druk geplaas het. Die kamer sê stygende oliepryse en streekskonflik hou steeds gevare in, hoewel ‘n bestendige rand gehelp het om die druk te verlig.
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, sê die versoekskrif wat hy van die teen-immigrasiegroep March and March ontvang het sal deur die tersaaklike regeringskanale oorweeg word. Die betoging in KuGompo City was deel van die groep se nasionale veldtog oor immigrasie-verwante kwessies. Mabuyane het hulle verbintenis herbevestig om na almal se bekommernisse te luister, maar ook die Grondwet, die oppergesag van die reg en alle mense in Suid-Afrika se wense te respekteer:
# Die vakbondfederasie SAFTU is bekommerd oor onthullings van die Openbare Beleggingskorporasie se Isibaya-fonds wat in 15 maatskappye en projekte belê het waar al hul geld verloor is. Die fonds het sowat 4,45-miljard-rand belê wat nou ‘n interne inkomste van minus 100-persent het. Dit beteken elke sent is verlore. Asive Dyani van SAFTU sê die belangrikste kwessie is verantwoordbaarheid, want werkers het die reg om te weet hoe hul geld belê word:
Nuus uit die buiteland:
# Europa se Toekomstige Gevegslugstelsel-vegvliegtuigprogram het in duie gestort en is amptelik gekanselleer. Die Duitse kanselier, Friedrich Merz, en die Franse president, Emmanuel Macron, het ooreengekom om die projek van miljarde euro te skrap nadat vervaardigers nie daarin kon slaag om ‘n langdurige nywerheids- en strategiese dooiepunt op te los nie. Die ineenstorting is die gevolg van onversoenbare verskille op verskeie gebiede, insluitend die grootte en doel van die straler-vegvliegtuig en binnegevegte tussen die Franse onderneming Dassault en Airbus Defence and Space van Duitsland.
# Atletiek: Die Amerikaanse tiener Cooper Lutkenhaus word beskou as ‘n ster van die toekoms nadat hy die Olimpiese kampioen, Emmanuel Wanyonyi, in die 800-meter geklop het op die Diamantliga-byeenkoms in Oslo, Noorweë. Die 17-jarige het in ‘n persoonlike beste tyd van een-minuut-42,08-sekondes gewen al het die Keniaan ook sy beste tyd van die seisoen aangeteken. Lutkenhaus het vroeër ook goud in die item verower op die Wêreld-binnenshuise kampioenskap, die Diamantliga-byeenkoms in Stockholm, Swede, en nog drie byeenkomste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-767-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-87-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….