Nuus 14:00
BULLETIN 10 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Leierskapstryd in Johannesburg vlam op toe Morero vir Mashaba aanvat
# Hongkong kla sewe mense en twee ondernemings aan oor ‘n dodelike brand wat 168 lewens eis
# En hokkie: Suid-Afrika sien uit na die opening van FIH se Nasiesbeker vir mans
# Johannesburg se uitvoerende burgemeester, Dada Morero, gee die voormalige burgemeester, Herman Mashaba, die skuld vir wat hy swak leierskap noem wat bygedra het tot voortdurende bestuurs- en dienslewerings-uitdagings. Morero voer aan besluite wat tydens Mashaba se ampstermyn geneem is, het blywende administratiewe onbestendigheid veroorsaak en stelsels verswak. Die uitlatings het politieke spanning in die metro verskerp, met opposisiepartye wat die bewerings verwerp. Hulle hou vol die huidige administrasie moet verantwoordelikheid neem en die voortslepende diensleweringskrisis in die stad oplos.
# Die vakbond GIWUSA is bekommerd oor ‘n daling van 0,8-persent in die vervaardigingsektor in die eerste kwartaal van vanjaar. Die vakbond se president, Mametlwe Sebei, sê elke persentasiepunt-daling in vervaardiging lei regstreeks tot werkverliese in voorsieningskettings, vervoer, groothandel, instandhouding, veiligheid, skoonmaakdienste en spyseniering. Hy sê die daling van 0,8-persent in ‘n enkele kwartaal, wat oor jare voortduur, het reeds tot die verlies van honderde-duisende nywerheidsposte gelei:
# Die vakbondfederasie COSATU verwelkom die bekendstelling van Eskom Green. Die toegewyde hernubare energie-bedryfseenheid is ontwerp om die ontwikkeling van grootskaalse hernubare energieprojekte te versnel. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê die organisasie bly egter sterk gekant teen enige ontbondeling van Eskom, aangesien dit sy vermoë kan bedreig om energie-sekerheid te verskaf. Hy sê Eskom se toetrede tot die hernubare energiesektor is deurslaggewend, maar waarsku dit moenie slegs tot voordeel van die privaat sektor wees nie.
Nuus uit die buiteland:
# Hongkongse owerhede het sewe mense en twee ondernemings aangekla van oortredings, insluitend strafbare manslag en sameswering, oor die stad se dodelikste brand in dekades in November verlede jaar. Dit het sewe woonstelgeboue verswelg en 168 lewens geëis. Die slagoffers se geliefdes wag sedertdien op antwoorde nadat die brand die hegte gemeenskap van Wang Fuk Court in die voorstad Tai Po verpletter het. ‘n Onafhanklike ondersoek het aan die lig gebring bykans alle brandveiligheidstelsels het weens menslike foute misluk.
# Hokkie: Suid-Afrika wil sy tuisveldvoordeel ten volle inspan in môre se FIH-Nasiesbeker-openingswedstryd teen Frankryk in Kaapstad. Suid-Afrika het vier jaar gelede die heel eerste toernooi gewen, maar Nieu-Seeland het daarna oorheers en opeenvolgende toernooie gewen. Nege spanne sal sake uitspook vir ‘n plek in die FIH-Pro-liga. Suid-Afrika se kaptein, Dayaan Cassiem, sê hulle benadering is om die toernooi wedstryd vir wedstryd aan te pak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-264-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-168-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….