Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra ‘n vinnige oplossing met die afhaal van ID’s by Binnelandse Sake
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, open die NATJOINTS-koördineringsentrum
# En sokker: Maradona se familie probeer om die verkoop van sy Goue Bal-trofee te keer
# Die DA versoek die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, om dringend te kyk na die tegniese probleem van ‘n stelsel wat van lyn afgaan wanneer ID’s afgehaal word. Die DA se nasionale woordvoerder oor Binnelandse Sake, Adrian Roos, sê daar is geen nuwe inligting van die departement of op sy webblad nie. Roos benadruk die belangrikheid van gereelde kommunikasie en vinnige oplossings, veral in die lig van die algemene verkiesing wat Maandag begin, om te verseker landsburgers kan hulle ID’s afhaal en stem.
# Die ministers van die justisie-, misdaadvoorkomings- en sekerheidsgroepering, onder leiding van die minister van Polisie, Bheki Cele, het voor die verkiesing die NATJOINTS-koördineringsentrum by die polisie-akademie in Tshwane geopen. Dit is met moderne tegnologie toegerus om nasionale sekerheid te monitor, inligting te koördineer en reaksie te bestuur om ‘n veilige kiesproses te verseker. Die nasionale polisie-woordvoerder, Athlenda Mathe, sê voertuie word ook oorhandig om polisie-sigbaarheid te verhoog:
# Die Vryheidsfront Plus het namens ‘n werknemer van Unisa ‘n klagte by die Openbare Beskermer ingedien, weens voortgesette ongerymdhede by die instelling. Hierdie spesifieke saak handel oor ‘n oënskynlik onwettige aanstelling. Die betrokke aanstelling handel oor ‘n werknemer wat afgetree het, maar daarna weer aangestel is vir ‘n kontraktermyn van 12 maande. ‘n Woordvoerder van die VF Plus, Wynand Boshoff, sê hulle het geskrewe vrae oor die aangeleentheid aan die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, gestuur:
# Sokker: Die erfgename van die Argentynse legende, Diego Maradona, probeer om die verkoop van die Goue Bal-trofee te keer wat hy in 1986 se Wêreldbekertoernooi in Mexiko verower het. Die trofee sal na verwagting miljoene haal wanneer dit vroeg volgende maand in Frankryk opgeveil word. Die trofee het dekades lank verdwyn voor ‘n Franse oudhedehandelaar dit in 2016 in Parys opgespoor het. Die Maradona-familie se regsverteenwoordigers voer aan dit behoort regtens aan sy erfgename. ‘n Hof sal volgende week beslis of die veiling mag voortgaan. Maradona is in 2020 op 60-jarige ouderdom oorlede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-359-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-68-sent per vat.
# Ten slotte: Die ster van Avengers en Thor, Chris Hemsworth, het sy ster op die Hollywood Walk of Fame ontvang. Die Australiër is die twee-duisend-781ste persoon om ‘n ster te ontvang. Van die ses Marvel and Global Avengers franchise-rolprente is Avengers: Endgame steeds een van die grootste lokettreffers. Hemsworth se mede-ster in Avengers, Robert Downey Junior, beskryf hom as ‘n insigvolle, briljante en merkwaardige persoon. Hemsworth sê om ‘n ster te ontvang is ‘n droom wat waar geword het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….