Nuus 14:00
BULLETIN 4 June 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement waarsku Tongaat Hulett se toekoms bly ‘n bedreiging vir die herstel van die suikerbedryf
# Brown Mogotsi word borgtog geweier
# En tennis: Rusland en Oekraïne spook vandag sake uit op die baan in Parys
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging waarsku die toekoms van Tongaat Hulett bly ‘n groot bedreiging vir die herstel van die suikerbedryf. Voorsitter Mzwandile Masina sê ‘n ondersteunende regulatoriese raamwerk vir biobrandstowwe, soortgelyk aan dié in Brasilië en Indië, word benodig om uiteenlopendheid en langtermyn volhoubaarheid te bevorder. Die komitee vra die regering, die privaat sektor en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie om Tongaat Hulett te help red. Belanghebbendes is bekommerd oor stygende suikerinvoere en die uitwerking van likwidasie op werksgeleenthede en landelike gemeenskappe.
# Die Johannesburgse Landdroshof het borgtog geweier aan die selfverklaarde politieke tussenganger Brown Mogotsi. Die hof het bevind hy kon nie bewys wat sy woonadres is nie en het beslis owerhede sou hom moontlik nie kon opspoor indien hy vrygelaat word nie. Mogotsi staan tereg op aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde vals sluipmoordkomplot in Vosloorus, asook die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n beboude gebied, regsverydeling en meineed.
# Die Madlanga-kommissie het ‘n eenheids-bevelvoerder van die KwaZulu-Natalse Valke, Gavin Jacob, ondervra oor besluite rakende die berging van bewysstukke waarop beslag gelê is. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga betwis sy bewering dat alle bergingskeuses uitgeput is en wys daarop hy het nooit nabygeleë polisiestasies gekontak om beskikbare ruimte te bevestig nie. Jacob erken hy het aannames gemaak gegrond op vorige logistieke uitdagings wat groot hoeveelhede bewysstukke behels het:
# Die polisie in Limpopo bied ‘n beloning van 100-duisend-rand aan vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van verdagtes na die moord op ʼn senior tolk van die hof. Die 56-jarige Thomas Langa wat aan die Streekshof in Giyani verbonde was, is doodgeskiet in sy voertuig op die R81-pad in Malamulele. Polisie-woordvoerder Malesela Ledwaba vra enigiemand met inligting oor die saak om na vore te kom:
# Tennis: Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne is vandag in die kollig op die Franse Ope wanneer vroue van die twee buurlande in die halfeindstryd sake uitspook. Die agtste-gekeurde Rus Mirra Andreeva pak die 15de-gekeurde Marta Kostyuk vir ‘n plek in Saterdag se eindstryd. Kostyuk is een van die bekendste Oekraïnse atlete wat gereeld die oorlog veroordeel. Sy het weer daarna verwys toe sy haar landgenoot, Elina Svitolina, in die kwarteindronde geklop het. In die ander halfeindstryd speel die 25ste-gekeurde Rus Diana Shnaider teen die Poolse kwalifiseerder Maja Chwalinska.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-678-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-468-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….