Nuus 14:00
BULLETIN 2 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Taxigeweld eis vier lewens in Nyanga
# Cosatu vra verdere verligting van die brandstofheffing om werkers en die ekonomie te ondersteun
# En sokker: Ondersteuuners in Indië sal wel Wêreldbekerwedstryde kan kyk ná ‘n ooreenkoms tussen FIFA en Zee
# Vier mense is vanoggend doodgeskiet in ‘n vermeende taxi-verwante aanval in Nyanga, Kaapstad. Onbekende aanvallers het losgebrand op ‘n groep mans. Twee mense is in ‘n bedenklike toestand hospitaal toe geneem. Polisie-woordvoerder André Traut sê speurders volg leidrade op en ‘n uitgebreide soektog is aan die gang. Hy sê bykomende bronne is ontplooi te midde van voortgesette taxi-verwante geweld in Nyanga.
# Die hooflanddros van Kwaggafontein in Mpumalanga, Tuletu Tonjeni, het afgetree slegs dae nadat ‘n klagte by die Landdroste-kommissie ingedien is oor haar besluit om die saak teen die taxi-hoof Joe Sibanyoni en sy medebeskuldigdes van die rol te skrap. Sy het die saak van afpersing- en geldwassery verlede maand teruggetrek nadat die aanklaer nie opgedaag het nie. Regsbronne sê Tonjeni se aftrede beteken die kommissie kan nie meer tugstappe doen nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag het intussen die saak in Delmas heropen, met verrigtinge wat in September sal hervat.
# Die vakbondfederasie Cosatu het die regering gevra om die brandstofheffing verder te verlig om sukkelende werkers te ondersteun tydens die Midde-Oosterse konflik. Petrolpryse styg om middernag met ‘n verdere een-rand-43-sent per liter, terwyl die dieselprys met drie-rand-23-sent per liter sal daal. Die algemene brandstofheffings-verligting is verminder. Matthew Parks van Cosatu sê die petrolprysverhoging is nog ‘n pynlike slag wat miljoene sukkelende werkers nie kan bekostig nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies sê die verergering van vyandelikhede in Libanon beklemtoon die behoefte aan ‘n diplomatieke oplossing om die geweldpleging te beëindig. Israel en die Irans-gesteunde militantegroep Hizbollah het aanvalle voortgesit ondanks hul aanvaarding van ‘n Amerikaanse plan om vyandelikhede te staak. Sedert Maart is drie-duisend-412 mense dood en meer as tien-duisend beseer. Die Verenigde Nasies se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê hul sal aanhou druk uitoefen vir ‘n vreedsame oplossing:
# Sokker: Ondersteuners in een van die wêreld se grootste sokkermarkte sal wel die Wêreldbeker-wedstryde kan kyk nadat Zee Entertainment van Indië en die wêreldbeheerliggaam FIFA ‘n ooreenkoms gesluit het wat ‘n maandelange dooiepunt beëindig. Finansiële besonderhede is nie bekend gemaak nie, maar FIFA wou glo 1,6-miljard-rand hê vir die Indiese pakkette vir vanjaar en die volgende toernooi in Marokko, Spanje en Portugal voordat die prys tot 975-miljoen-rand verlaag is. Reuters berig die ooreenkoms gee Zee ‘n vastrapplek in Indië se uitsaaimark.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-464-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-527-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….