Nuus 14:00
BULLETIN 28 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nkabinde-ondersoek sluit openbare verhore af oor Andrew Chauke se geskiktheid om sy amp te beklee
# Die NVG bevestig Sibanyoni en sy medebeskuldigdes betwis hul lasbriewe
# En rugby: Die VRK waarsku spelers om nie skeidsregters te probeer intimideer nie
# Die Nkabinde-ondersoek het bevestig alle openbare verhore is afgehandel oor die Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se geskiktheid om die amp te beklee. Finale skriftelike voorleggings van getuienisleiers en Chauke se regspan is nou ontvang. President Cyril Ramaphosa het die ondersoek in September verlede jaar van stapel gestuur ná bewerings van wangedrag en swak aanklaertoesig in verband met korrupsie- en georganiseerde misdaadsake, insluitend die omstrede Cato Manor-ondersoeke. Die paneel sal na verwagting sy finale aanbevelings voor 30 Junie indien.
# ‘n Taxibaas van Mpumalanga, Joe Sibanyoni, en Bafana Sindane het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Mbombela ingedien om te verhoed dat hul afpersingsaak weer op die rol geplaas word. Hulle regsverteenwoordiger voer aan die lasbriefprosedure was foutief en die beskuldigdes is nie voortvlugtend nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê hulle het vandag in die Landdroshof in Delmas verskyn, met ‘n ander staatsaanklaer wat oorgeneem het:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het die uitkomste vrygestel van toelatingsaansoeke wat betyds was vir grade R, 1 en 8 vir 2027. Skole bepaal die uitslae van toelatingsaansoeke volgens hul toelatingsbeleide. Ouers met plasingsaanbiedings het tot 15 Junie om hul keuses te bevestig. LUR David Maynier sê dit is nog baie vroeg in die proses en vra ouers vir geduld en begrip:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 16 leerders is dood en meer as 70 beseer in ‘n brand wat in die vroeë oggendure in ‘n koshuis aan die Utumishi Girls Academy in Gilgil, Kenia uitgebreek het. Daar was 220 leerders in die koshuis. Die polisie sê soek- en reddingsoperasies duur voort en die dodetal sal na verwagting styg. Polisiebevelvoerder Masoud Mwinyi sê die oorsaak van die brand is tans onbekend. Brande is algemeen in Keniaanse koshuise, met sommige wat weens brandstigting ontstaan en ander weens elektriese foute.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap het spelers gewaarsku dat hulle gestraf sal word as hulle te erg aangaan wanneer hulle besluite op die veld betwis. Spanne het gekla oor sekere spelers, veral van Ierse provinsies, wat skeidsregters voortdurend uitdaag en vra vir hersienings van moontlike kopkontak. Die hoof van die VRK-skeidsregters, Tappe Henning, sê kapteins word toegelaat om die skeidsregter te nader om ‘n kwessie te opper, maar die res van die spelers kan nie skree of besluite oor aspekte van die spel betwis nie. Die kwarteindronde van die VRK vind hierdie naweek plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-295-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-399-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….