Nuus 14:00
BULLETIN 27 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee amptenare is geskors oor vals verwysings in die K-I-dokument
# ‘n Landdros is aangekla oor die hantering van Joe Sibanyoni se afpersingsaak
# En rugby: Die All Blacks se kaptein is uit die Suid-Afrikaanse toer weens ‘n rugbesering
# Twee amptenare van die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë is voorlopig geskors nadat hulle ChatGPT gebruik het om Suid-Afrika se nasionale Kunsmatige Intelligensie-beleid sonder openbaarmaking op te stel. Die dokument het vals akademiese verwysings bevat wat deur K-I-hallusinasies geskep is en is daarna teruggetrek. Minister Solly Malatsi het dissiplinêre stappe bevestig, terwyl die Parlement interne toesig en die gebruik van K-I in beleidsopstelling bevraagteken het. Die departement het ‘n paneel kundiges aangestel om ‘n hersiene, geloofwaardige K-I-beleidsraamwerk te ontwikkel.
# ’n Formele klagte is by die Landdroste-kommissie ingedien teen die hooflanddros van Kwaggafontein in Mpumalanga, Tuletu Tonjeni, oor haar hantering van die afpersingsaak teen die taxi-hoof, Joe Sibanyoni. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Kaizer Kganyago, het aan Newzroom Afrika gesê die aanklaer is verkeerdelik skuldig bevind aan minagting, en ‘n lasbrief vir inhegtenisneming is uitgereik sonder ‘n formele ondersoek. Hy sê veiligheidskwessies moes oorweeg word voor uitspraak gelewer is:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê koolstofvermindering, uiteenlopendheid en digitalisering sal die grondslag vorm van Suid-Afrika se nuwe nywerheids-ontwikkelingstrategie. Hy het tydens sy begrotingsrede in die Parlement gesê die kabinetsgoedgekeurde strategie is daarop gemik om die land as ‘n leier in groen ekonomie te posisioneer terwyl uitvoere, belegging en werkskepping bevorder word. Daarbenewens sal die regering nywerhede, insluitend staal-, ferrochroom- en motorvervaardiging, ondersteun deur infrastruktuurbelegging en tariefbeskerming. Tau hou vol dat swart ekonomiese bemagtiging ‘n sleutel-ekonomiese beleid bly.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum sê daar is ‘n ernstige ineenstorting van dienste deur organisasies sonder winsbejag by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, wat meer as 500 kerke raak. Volgens die forum maak administratiewe mislukkings dit moeilik vir geloofsgroepe om te funksioneer en aan die wet te voldoen. Die forum se president, Marothi Mashashane, sê kerke speel ‘n sleutelrol in die ondersteuning van kwesbare gemeenskappe, maar word teruggehou deur administratiewe mislukkings:
# Rugby: Die All Blacks sal sonder hulle kaptein, Scott Barrett, moet klaarkom op hulle toer na Suid-Afrika. Hy het sy rug beseer en is vir tot vyf maande buite aksie. Die afrigter van Barrett se span, die Crusaders, Rob Penney, sê die veteraan van 88 toetse het alle denkbare nie-ingrypende prosedures probeer, maar uiteindelik besef dat ‘n operasie die enigste uitweg is. Nieu-Seeland besoek Suid-Afrika van Augustus vir drie toetse teen die Springbokke en vier week-wedstryde, gevolg deur ‘n vierde toets teen die wêreldkampioen in Amerika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-773-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-484-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….