Nuus 14:00
BULLETIN 20 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mmusi Maimane sê Suid-Afrika ondervind ‘n misdaad- en veiligheids-epidemie
# Die Chinese president waarsku teen die hervatting van militêre operasies in die Midde-Ooste
# En padwedlope: Die Mandela-marathon stel sy ambassadeurs bekend
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, sê die land ondervind ‘n volskaalse misdaadkrisis. Oor die afgelope dekade is meer as 21-miljoen misdaadsake by die polisie aanhangig gemaak, waarvan 61,7-persent gesluit is sonder om opgelos te word. Maimane sê dit beteken dat 13,2-miljoen slagoffers nooit geregtigheid gesien het nie. Hy het ook die ses-duisend polisievakatures en die tekort aan twee-duisend-300 speurders uitgelig. Maimane sê wat nodig is, is ernstige hervorming, wat desentralisering van wetstoepassing, die beëindiging van kader-ontplooiing en die afdwinging van meriete-gegronde aanstellings vereis.
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor berigte dat die brandstofprys weereens gaan styg. Die Sentrale Energiefonds se vooruitskatting vir Junie toon dat die petrolprys met tussen 13- en 19-sent kan styg, terwyl dieselpryse met tussen vier-rand-41- en drie-rand-52-sent kan daal. Claude Naicker van die vakbond sê die verwagte styging sal ‘n nóg groter finansiële las plaas op Suid-Afrikaners wat reeds ‘n stryd voer teen hoë lewenskoste:
# Die DA in Johannesburg beskuldig burgemeester Dada Morero dat hy nie optree teen beweerde wangedrag binne sy uitvoerende gesag nie. Daar was onlangs oproepe vir die verwydering van die burgemeesterskomiteelid vir Ontwikkelings-beplanning, Thapelo Amad, ná strafregtelike sake teen hom. Die DA-lid, Belinda Kayser-Echeozonjok, sê daar word ook beweer ‘n ander burgemeesterskomiteelid is in hegtenis geneem in verband met ‘n ontvoeringsaak:
Nuus uit die buiteland:
# Die Chinese president, Xi Jinping, waarsku teen die hervatting van militêre operasies in die Midde-Ooste en sê dit sal onaanvaarbaar wees. Sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, het gedreig met nog militêre aanvalle teen Iran indien daar nie teen die naweek ‘n ooreenkoms bereik word om die oorlog te beëindig nie. Xi het verlede maand ‘n vierpunt-voorstel voorgelê wat ‘n vreedsame samelewing, nasionale soewereiniteit, internasionale reg en ‘n gesamentlike benadering tot ontwikkeling en veiligheid bevorder. Hy sê ‘n omvattende skietstilstand is noodsaaklik.
# Padwedlope: Die Nelson Mandela-stigting het ambassadeurs vir die Mandela-marathon bekend gestel tydens ‘n seremonie in Kaapstad. Hulle sluit in die Keniaanse marathonlegende Catherine Ndereba, die voormalige wêreldrekordhouer Paul Tergat, en die Suid-Afrikaanse langafstandkampioen Prudence Seokgodiso. Die voormalige New Yorkse en Mumbaise marathonwenner Hendrick Ramaala is ook ‘n ambassadeur. Die geleentheid op 18 Oktober in Kaapstad sal vyf-, tien-, 21- en 42,2-kilometer wedlope insluit. Die organiseerders sê die marathon bevorder Madiba se waardes van eenheid en maatskaplike geregtigheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-25 teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-491-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-488-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….