Nuus 14:00
BULLETIN 19 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Springbok-afrigter Rassie Erasmus ontvang die Nasionale Orde van Ikhamanga
# FOSA vra volle deursigtigheid oor die grondwetlike gevare verbonde aan die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering
# En die Trump-administrasie stel voor om vlugtelingtoelatings vir wit Afrikaners te verhoog
# Ons begin met goeie nuus: President Cyril Ramaphosa het die Orde van Ikhamanga aan die Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus toegeken tydens ‘n seremonie in Pretoria. Die toekenning is Suid-Afrika se hoogste eerbewys in sport, kuns en kultuur. Erasmus, ‘n tweemalige Wêreldbeker-wenner as afrigter, is geprys oor hoe hy rugby gebruik om Suid-Afrikaners te verenig. Die Noordwes-Universiteit, wat ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken het, beskryf hom as ‘n inspirasie en sê sy leierskap vorm steeds nasionale trots en sosiale samehorigheid.
# Forum for South Africa vra volle deursigtigheid oor die grondwetlike gevare van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Die Konstitusionele Hof het Artikels 36 tot 40 ongrondwetlik verklaar. Dit sou die staat die mag gee om te bepaal waar gesondheidsorgverskaffers mag werk, wie hulle in diens mag neem en watter opleiding hulle mag verskaf. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê hierdie uitspraak is ‘n duidelike en noodsaaklike teregwysing van wetgewende oorskryding:
# Pick n Pay het aangekondig hy gaan ‘n verdere 11,5-persent van die Boxer-kettinggroep ter waarde van tot 4,7-miljard-rand verkoop om sy balansstaat te versterk en te verseker die ommekeer onder Sean Summers werp vrugte af. Die aankondiging beteken Pick n Pay sal ongeveer 54-persent van Boxer besit, terwyl dit tans meer as 65-persent beloop. Die groep voeg by hy is daartoe verbind om ‘n meerderheidsbelang in Boxer te behou, aangesien dit steeds ‘n belangrike bron van waardeskepping vir die groep en sy beleggers is.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê die brand in Bainskloof is grootliks onder beheer na brandbestryders se intensiewe pogings verlede nag. Geen skade aan eiendom of verlies aan voortbestaan is aangemeld nie. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê daar is steeds ‘n paar smeulende kolle wat aandag benodig, maar geen vlamme nie:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie beplan volgens berigte om die vlugtelingtoelatingsperk vir wit Afrikaners van Suid-Afrika tot 17-duisend-500 vir die 2026-boekjaar te verhoog. Trump het herhaaldelik gesê meer Afrikaners kan vlugtelingstatus verkry omdat ‘n volksmoord na bewering in Suid-Afrika plaasvind. Hy het ook beweer wit boere word wreedaardig vermoor en hul grond word gevat. Die regering ontken die bewerings. Amerika het ongeveer vier-duisend-500 Suid-Afrikaners as vlugtelinge toegelaat in die eerste ses maande van die boekjaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-32 teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-786-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-538-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….