Nuus 14:00
BULLETIN 18 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se speaker is onder druk oor die Phala Phala-saak
# Brown Mogotsi se borgtogverhoor word uitgestel tot volgende Maandag
# En krieket: Die voorlaaste week van die IPL het aangebreek
# Die speaker van die Nasionale Vergadering Thoko Didiza, verkeer onder toenemende druk met die omstrede Phala Phala-saak wat na die Parlement terugkeer. Parlementslede sal na verwagting debatteer of verdere parlementêre prosesse moet voortgaan oor die beskuldigings teenoor president Cyril Ramaphosa en die inbraak op sy plaas in Limpopo in 2020. Opposisiepartye vra aanspreeklikheid en hernude ondersoek na die saak. Didiza se besluit sal na verwagting bepaal hoe die Parlement die polities-sensitiewe saak vorentoe hanteer.
# Die Johannesburgse Landdroshof het die borgtogaansoek van die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, tot volgende Maandag uitgestel. Hy is Vrydag in hegtenis geneem nadat hy voor die Madlanga-kommissie getuig het. Mogotsi word beskuldig van verskeie oortredings nadat hy in November na bewering ‘n sluipmoordpoging op homself versin het in Vosloorus, Gauteng. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê meer aanklagte kan bygevoeg word, en waarsku mense om nie vals sake te open nie:
# Transnet het sy houerbrandstoftoeslag verhoog van 52- tot 78-rand per houer, met ingang 1 Junie. Die heffing geld op dieselafhanklike haweterminale en het ten doel om stygende brandstofkoste te verhaal wat verband hou met die wêreldwye olieprysdruk en spanning in die Midde-Ooste. Bedryfsgroepe waarsku die verhoging sal die vrag- en logistieke sektor verder belas. Transnet sê die toeslag is tydelik en sal maandeliks hersien word afhangend van veranderings in dieselpryse.
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat vir Water en Sanitasie vra inwoners en sakeondernemings om water net vir noodsaaklike doeleindes te gebruik. Dit volg nadat gure weerstoestande groot watersuiweringsoperasies beïnvloed het en druk plaas op grootmaat-watervoorsiening. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die betrokke suiweringsaanlegte is wel in werking, maar volumes is kleiner terwyl spanne daaraan werk om watergehalte se standaard te handhaaf:
# Krieket: Die voorlaaste week van die Indiese Premierliga het aangebreek en baie is nog op die spel om uitspeelwedstryde te verseker. Die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, is stewig bo-aan die punteleer met 16 punte na hulle Punjab Super Kings gister geklop het. Gujarat Titans is in die tweede plek, Sunrisers Hyderabad derde en Punjab vierde. Hulle word gevolg deur Chennai Super Kings, Rajasthan Royals, Delhi Capitals en Kolkata Knight Riders, terwyl Mumbai Indians en Lucknow Super Giants nie meer in tel is nie. Die uitspeelwedstryde begin volgende Dinsdag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-39 teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-719-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-541-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….