Nuus 14:00
BULLETIN 14 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp Zuma en Thales se poging om die wapentransaksie-verhoor uit te stel
# ATM vra ‘n regverdige, grondwetlike en onpartydige ampsklagproses
# En krieket: ‘n Voormalige paaltjiewagter word die eerste vroue-afrigter van die Engelse manspan
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het nuwe pogings deur oudpresident Jacob Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales verwerp om die jarelange multi-miljard-randse wapentransaksie-korrupsieverhoor uit te stel. Die verhoor sleep reeds langer as 20-jaar voort. Regter Nkosinathi Chili het beslis die saak moet voortgaan en verwerp verdere appèlaansoeke, wat aanklaers Stalingrad-taktiek noem. Hy het ook betoë verwerp dat die dood van sleutelgetuies ‘n verhoor onmoontlik maak:
# African Transformation Movement verwelkom die stigting van die Parlement se ampsklagkomitee oor president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-saak. Hy waarsku teen politieke inmenging en sê die werklike toets sal wees of die komitee met integriteit en onpartydigheid optree. ATM het die Parlement beskuldig dat hy Ramaphosa voorheen beskerm het rakende die diefstal van miljoene-rand op sy plaas. Woordvoerder, Zama Ntshona, sê die komitee moet aanspreeklikheid verseker:
# Die Nasionale Jeugwerkloosheidsbeweging eis dat werkloosheid tot ‘n nasionale ramp verklaar word. Statistieke SA het aangekondig werkloosheid het tussen Januarie en Maart vanjaar tot 32,7-persent gestyg en 8,1-miljoen mense is tans werkloos. Die beweging se leier, Lindokuhle Yende, sê ‘n ramp word verklaar wanneer gewone stelsels ineenstort en die alledaagse lewe nie kan voortgaan nie:
# Afrika-toerismeleiers beklemtoon handel binne Afrika en verslapte reisbeperkings sal sterker streeksamewerking bevorder, toerisme ‘n hupstoot gee en werksgeleenthede oral in die vasteland skep. Die voorstel is gedoen op die Afrika-reis-indaba in Durban. Verteenwoordigers van Eswatini en Lesotho vra makliker beweging tussen Afrikalande, terwyl hulle die belangrikheid van geldige dokumentasie vir reisigers beklemtoon. Besprekings het ook gefokus op die verbetering van streeksintegrasie en die uitbreiding van toerismegeleenthede op die vasteland.
# Krieket: Sarah Taylor is die eerste vroue-afrigter van Engeland se senior manspan nadat sy as veldwerkghoeroe aangestel is vir volgende maand se reeks van drie toetse teen Nieu-Seeland. Die 36-jarige voormalige paaltjiewagter het 226 wedstryde in alle formate vir die nasionale vrouespan gespeel en was deel van die T20- en die eendag-Wêreldbeker-kampioenspan in 2009. Sy het in 2019 uitgetree en ‘n afrigtingsloopbaan begin. Die direkteur van krieket, Rob Key, sê Taylor is een van die bestes in die spel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-20 teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-606-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-697-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….