Nuus 14:00
BULLETIN 12 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA gaan strafregtelike klagte teen president Cyril Ramaphosa lê oor die Phala Phala‑kontantbewerings
# Die VF Plus beweer Ekurhuleni se kubermisdaadskandaal van twee-miljard-rand bewys ‘n algehele bestuurs-instorting
# En sokker: Die Amerikaanse ambassadeur gebruik die Wêreldbeker om bande met Suid-Afrika te versterk
# ActionSA beplan om strafregtelike klagte teen president Cyril Ramaphosa te lê oor beweerde teenstrydighede in die bedrag geld wat in Februarie 2020 van sy plaas, Phala Phala, gesteel is. Woordvoerder Michael Beaumont noem oortredings van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, asook aanklagte van bedrog en meineed, en sê die bedrag ter sprake was minstens 15-miljoen-rand. Hy sê die saak sal deur alle grondwetlike kanale voortgesit word:
COPE sê intussen Ramaphosa het die grondwetlike reg om ‘n geregtelike hersiening van die Artikel 89-paneel se bevindinge rakende die saak aan te vra. Pakes Dikgetsi van die party sê die Konstitusionele Hof se uitspraak beklemtoon mislukkings in die Parlement se toesighoudende rol en waarsku teen die beskerming van leiers teen verantwoordbaarheid en die ondermyning van demokratiese instellings. Dikgetsi hou vol die ampsklag-proses moet onafhanklik en deursigtig voortgaan:
# Die Vryheidsfront Plus in Ekurhuleni, Gauteng, is bekommerd oor die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge se onthulling oor uitgebreide kubermisdaad in die metro. Woordvoerder Denise Janse van Rensburg sê kubermisdadigers het na raming oor ‘n lang tydperk meer as twee-miljard-rand uit die metro se faktuurstelsel gesteel. Sy sê hierdie skokkende onthulling dien as nog ‘n bewys van wanadministrasie in die ANC-geleide koalisie:
# Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika sê Suid-Afrika het verlede jaar 2,9-miljoen ton sitrus uitgevoer, die wêreld se grootste sitrusuitvoerder volgens volume, selfs groter as Spanje. Uitvoerende hoof Boitshoko Ntshabele sê die groei word aangedryf deur beleggings in boorde, sterk uitvoerstandaarde en wêreldwye aanvraag. Ntshabele sê die regering moet marktoegang verbeter tot sleutelstreke, insluitend die Europese Unie, Amerika, Indië en China. Die sitrusbedryf ondersteun tans meer as 140-duisend werksgeleenthede in Suid-Afrika se landelike gemeenskappe.
# Sokker: Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, sê die Wêreldbekertoernooi sal help om diplomatieke bande deur sport te versterk. Hy en die gesante van die ander gasheerlande, die Mexikaanse ambassadeur, Sara Valdés Bolaño, en die Kanadese hoëkommissaris, James Christoff, asook die minister van Sport, Gayton McKenzie, het Bafana Bafana in Pretoria vereer. Bozell sê sokkerdiplomasie kan help om verhoudings te herbou terwyl dit eenheid en internasionale samewerking bevorder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-40 teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-785-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-701-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….