Nuus 14:00
BULLETIN 11 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senior polisiebeamptes en ‘n sakeman is borgtog van twintig-duisend-rand toegestaan
# Iran stel ‘n man tereg wat skuldig bevind is aan spioenasie vir die CIA en Mossad
# En krieket: Die aankondiging van die Protea Vrouespan vir die Wêreldbeker is uitgestel
# Die polisie se hoof van Teenintelligensie, Feroz Khan, die Gautengse hoof van die Valke, Ebrahim Kadwa, en die sakeman Tariq Downes is borgtog van twintig-duisend-rand toegestaan in die Kemptonparkse Landdroshof in Gauteng. Hulle staan tereg op aanklag van die onwettige besit van edelmetaal en regsverydeling. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê Downes is na bewering in 2021 op die OR Tambo Internasionale Lughawe vasgetrek met 62-duisend-rand se goud:
# Die Wes‑Kaapse regering het vanoggend ‘n waarskuwing aan vragvervoer- en vragmotorbestuurders uitgereik oor die stormsterk wind. Verskeie vragmotors het omgewaai op roetes naby Riversdal, Hemel‑en‑Aarde, die R43 Theewaterskloofbrug en die R44 tussen Arabella en Kleinmond. Woordvoerder Maxine Bezuidenhout raai motoriste aan om onnodige ritte uit te stel en uiters waaksaam te wees op oop kusbrûe waar sterk dwarswind veral ligter voertuie kan raak:
‘n Sterk wind en ontwortelde bome veroorsaak intussen ook wydverspreide ontwrigting in George. Verskeie paaie is steeds gesluit, insluitend die Outeniqua-pas, die Step Aside-pad en dele van die R404 naby Blanco. Noodspanne ruim tans gebiede op. Die motorvoertuig-registrasiekantoor in Blanco is gesluit en dienste word herlei. Sterk wind het volgens berigte ‘n deel van die Laerskool George Suid se saal-dak afgewaai. Inwoners word versoek om binne te bly, ritte te vermy en amptelike bywerkings te volg.
Nuus uit die buiteland:
# Iran het ‘n man tereggestel wat skuldig bevind is aan spioenasie vir die Amerikaanse en die Israelse intelligensiediens. Die Iranse nuusagentskap Mizan het die man as Erfan Shakourzadeh geïdentifiseer en sê hy het by ‘n wetenskaplike organisasie gewerk wat betrokke was by satelliet-bedrywigheide, en geklassifiseerde wetenskaplike inligting met buitelandse intelligensiedienste gedeel. Volgens die Iranse Menseregtevereniging is die 29-jarige gegradueerde in lugvaart-ingenieurswese verlede jaar in hegtenis geneem en gedwing om ‘n bekentenis af te lê.
# Krieket: Die Protea Vrouespan vir die T20-Wêreldbekertoernooi sal op ‘n later datum aangekondig word nadat vandag se seremonie ‘n paar minute voor die geskeduleerde tyd gekanselleer is. Krieket Suid-Afrika sê dit is vanweë die behoefte aan ‘n interne hersiening. ‘n Groep van 15 spelers sal aan die toernooi in Engeland en Wallis deelneem, wat op 12 Junie begin. Suid-Afrika se eerste wedstryd is die dag daarna teen Australië op Old Trafford. Twaalf spanne sal in 33 wedstryde op sewe stadions teen mekaar te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-33 teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-90-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-664-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….