Nuus 14:00
BULLETIN 5 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SANTACO bevestig taxi-tariefverhogings is onvermydelik te midde van stygende brandstofpryse
# ‘n Onderwysaktivis vra bestendigheid nadat NS-FAS onder administrasie geplaas is
# En krieket: Lungi Ngidi is dalk vandag terug vir Delhi Capitals na ‘n nekbesering
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad sê taxi-tariefverhogings is onvermydelik na die skerp styging in brandstofpryse. Pendelaars reg oor Suid-Afrika betaal nou meer namate operateurs tariewe aanpas om stygende kostes te dek. SANTACO se woordvoerder, Rebecca Phala, sê verhogings wissel tussen verenigings, met plaaslike verhogings wat wissel van twee- tot ses-rand per rit. Sy sê operateurs moet bekostigbaarheid met volhoubaarheid balanseer en waarsku verdere verhogings later vanjaar bly ‘n moontlikheid weens voortdurende wêreldwye brandstofprys-onsekerheid.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra bestendigheid na die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, se besluit om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente onder administrasie te plaas. Dit volg op voortdurende bestuurs- en bedryfs-uitdagings. Makaneta sê hy hoop daar sal gedurende hierdie tydperk bestendigheid en minimale ontwrigting van studente se akademiese programme wees:
# Die Departement van Water en Sanitasie vra watergebruikers landwyd om dringend te registreer of hul inligting oor watergebruik by te werk. Dit is deel van ‘n landwye poging om die bestuur en beskerming van Suid-Afrika se waterbronne te verskerp. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê ongeregistreerde gebruikers veroorsaak kritieke data-leemtes wat beplanning en besluitneming ondermyn, regverdige verspreiding ontwrig en bykomende druk op die reeds beperkte bronne plaas:
# Pick n Pay het ‘n Artikel 189-proses van stapel gestuur om die werknemervoorwaardes vir 22-duisend werkers te hersien. Uitvoerende hoof Sean Summers sê 12-jaar van toegewings het die kettingwinkel oorbeman op weeksdae gelaat, terwyl hulle op deeltydse werkers in die aande en oor naweke staatmaak. Die groep wil koste besnoei deur Sondagbetaling te verminder en nuwe roosters in te stel. Onderhandelinge oor die nuwe diensvoorwaardes het met Saccawu begin, wat aspekte van die maatskappy se bestaande loonooreenkoms van drie-jaar sal raak wat in Maart volgende jaar verstryk.
# Krieket: Die Protea-snelbouler Lungi Ngidi het herstel van ‘n nekbesering en harsingskudding en is slaggereed om vandag vir Delhi Capitals te speel in hulle Indiese Premierliga-wedstryd teen Chennai Super Kings. Hy is op 25 April beseer in die wedstryd teen Punjab Kings. Chennai is steeds sonder sy inspirerende oud-kaptein, MS Dhoni, wat sukkel om ‘n dyspierbesering af te skud. Hulle is tans sesde op die punteleer en Delhi sewende na teleurstellende vertonings vroeër die seisoen, maar kan albei nog die uitspeelrondes haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-720-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-553-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 111-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….