Nuus 14:00
BULLETIN 30 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Malatsi vra tyd om in die Parlement rekenskap te gee van die konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie
# Gholf: Talle LIV-spelers reik glo uit na die PGA-toer oor moontlike terugkeer
# En Suid-Afrika teken landwyd ‘n afname van 16-persent aan in tienerswangerskappe
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het tyd gevra om ‘n interne ondersoek af te handel nadat die Parlement se Kommunikasiekomitee hom tot verantwoording geroep het na die terugtrekking van die konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie. Dit volg nadat onthul is 67 verwysings in die beleid is waarskynlik verkeerdelik deur K-I geskep. Malatsi het die komitee verseker gevolgsbestuur sal ingestel word teen amptenare wat versuim het om hul pligte uit te voer.
# Die Gautengse polisie ondersoek sake van kwaadwillige saakbeskadiging en poging tot moord nadat drie vragmotors op die N3-snelweg naby Vosloorus aan die brand gesteek is. Polisiewoordvoerder Noxolo Kweza sê die verdagtes het na bewering die pad versper en begin losbrand tydens ‘n kapingspoging. Die bestuurders is ongedeerd. Kweza veroordeel die aanval en sê wetteloosheid sal nie geduld word nie. Sy vra inligting om te help met ondersoeke en moontlike inhegtenisnemings:
# Die Wes-Kaapse premier se Koördineringsforum sê die provinsie maak goeie vordering met die beheer van bek-en-klouseer. Geen nuwe gevalle is die afgelope 39 dae in die provinsie aangemeld nie. Dit dui daarop dat die uitbreking nou bestendig is. Altesaam 164-duisend-425 inentings is reeds op 756 plekke in die provinsie gedoen. Premier Alan Winde sê inentings bly noodsaaklik in die provinsie se beheerstrategie:
# Gholf: Talle LIV-gholfspelers het blykbaar na die PGA-toer uitgereik om hul moontlike terugkeer te bespreek. Dit volg op berigte dat die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds LIV na hierdie seisoen nie meer gaan befonds nie. Die major-wenners Jon Rahm van Spanje, die Amerikaners Bryson DeChambeau en Phil Mickelson, en die Australiër Cameron Smith is onder die spelers wat aan LIV deelneem. Volgens Golf Digest sal daar ‘n manier wees om terug te keer, maar voorwaardes sal waarskynlik aansienlik strenger wees as dié wat aan die Amerikaner Brooks Koepka gestel is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-12-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-628-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Navorsing in die Suid‑Afrikaanse Mediese Tydskrif toon tienerswangerskappe het tussen 2021 en 2025 met 16-persent gedaal in Suid-Afrika. Die studie toon jaarlikse dalings in alle provinsies, met geboortes onder meisies van 10- tot 14-jaar wat met byna 40-persent gedaal het. ‘n Gesondheidsnavorser, Peter Barron, sê ondanks die verbetering, bly die koers hoog, met ongeveer 115-duisend tieners wat steeds jaarliks geboorte skenk. Hy beklemtoon onderwys, toegang tot voorbehoedmiddels en maatskaplike veranderings ná Covid-19 kon ‘n rol gespeel het in die afname.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….