Nuus 14:00
BULLETIN 29 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Professor aan die Noordwes-Universiteit sê Suid-Afrika kan die brandstofprysskok aanpak sonder om fiskale geloofwaardigheid te verloor
# ‘n Onderwysaktivis steun die oproep vir ‘n ondersoek na die handboek-tenderskandaal
# En rugby: Nog drie spelers is uitgenooi na die Bok-vroue se oefenkamp voor die Afrika-Vrouebekertoernooi
# Professor Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit sê Suid-Afrika kan die wêreldwye brandstofprysskok bestuur sonder om fiskale geloofwaardigheid te verloor. Hy voer aan geteikende verligtingsmaatreëls, ondersteun deur inkomste- en bestedingshersienings wat hoër as verwag was, kan huishoudings beskerm en openbare finansies bestendig hou. Parsons waarsku wêreldwye olie-wisselvalligheid sal aanhoudend druk op brandstofpryse plaas, maar sê versigtige beleidskeuses kan beleggersvertroue handhaaf en die uitwerking van inflasie op die ekonomie beperk:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, geprys oor die oproep tot verantwoordbaarheid in die handboektender van 1,6-miljard-rand. Lighthouse Publishers is meer as ‘n kwart van die tender toegestaan vir die publikasie van handboeke vir grondslagfase, al is dit blykbaar eers geregistreer na die formele bekendstelling van die kontrakvereistes. Makaneta sê die regering kan nie toelaat dat geld vir leerders bedoel, misbruik word nie:
# AfriForum het ‘n vertoë ingedien teen die MK-party se Wysigingswetsontwerp op Artikel 235 van die Grondwet. Die party wil die artikel laat herroep wat die reg op selfbeskikking verleen aan gemeenskappe met ‘n gemeenskaplike kulturele en taalerfenis. Die party voer aan die Handves van Menseregte beskerm reeds taal en kultuur-regte, vryheid van sosiale omgang en godsdiensvryheid. Woordvoerder Barend Uys sê die wysigings sal die staat se outoritêre mag uitbrei:
# FedEx se bedryfshoof, Nelson Teixeira, sê doeltreffende lugvrag-spilpunte is noodsaaklik om Suid-Afrika se ekonomiese groei en internasionale mededingendheid te bevorder. Hy beklemtoon stygende e-handel en uitvoer-aanvraag is belangrike aandrywers. ‘n Studie deur die Universiteit van Johannesburg het bevind infrastruktuur-opknappings en tegnologie-aanvaarding is noodsaaklik om vertragings te verminder. Belangrike spilpunte soos die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng verkeer onder druk om doeltreffendheid te verbeter, met beleggings wat nodig is om handel te versterk, beleggers te lok en sektore soos landbou en die medisyne‑ en gesondheidsbedryf te ondersteun.
# Rugby: Die Springbok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, het die ervare Sizophila Solontsi en Nomawethu Mabenge genooi om volgende maand by ‘n groep van 36 spelers aan te sluit vir ‘n oefenkamp in Stellenbosch. Lerato Makua is ook genooi. Solontsi het die vorige kamp weens ‘n kopbesering misgeloop, terwyl Mabenge rehabilitasie van ‘n kniebesering ondergaan het. De Bruin sê die drie spelers gee die groep bykomende intensiteit. Die oefenkamp is ter voorbereiding vir volgende maand se Rugby Afrika-vrouebekertoernooi in Kenia.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-831-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-571-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….