Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kiesers sal waarskynlik nie weens op die nippertjie-veldtogpogings van plan verander nie
# ‘n Vinpro-verslag dui op ‘n afname van sewe-persent in 2024 se wyndruif-oes
# En, krieket: Die Windies se tussentydse kaptein is gereed vir die T20-reeks teen Suid-Afrika
# Daar is enkele dae oor tot Suid-Afrika se verkiesing, en ‘n politieke ontleder, Dirk Kotzé, is van mening kiesers het reeds hul besluite geneem en sal waarskynlik nie deur veldtogpogings op die nippertjie van plan verander nie. Dit volg nadat politieke partye die oorblywende dae voor die verkiesing deurbring om hul deur-tot-deur-veldtogte te verskerp en saamtrekke aan te bied. Kotzé meen in hierdie laat stadium kan veldtogte slegs kiesers se bestaande besluite bevestig en nie hul keuses verander nie.
# Die wynbedryf-organisasie Vinpro berig 2024 se wyndruif-oes het 1,09 metrieke ton opgelewer, wat ‘n afname van sewe-persent teenoor die vorige seisoen toon. Die bestuurder van Consultation Services, Etienne Terblanche, sê sorgvuldige beplanning en aanpasbaarheid kan klimaatsuitdagings oorkom. Hy sê ondanks ‘n kleiner oes, is wynmakers optimisties oor die gehalte, veral van rooiwyn-druiwe. Suid-Afrika is die wêreld se sewende grootse produsent, en die oes word beskou as ‘n bewys van die bedryf se veerkragtigheid en verbintenis tot gehalte.
# Die driedaagse begrafnis van die Iranse president, Ebrahim Raisi, begin vandag in Tabriz en verskuif vanmiddag na Qom. Hy het Sondag in ‘n helikopterongeluk gesterf. ‘n Afskeidseremonie word vanaand by die Imam Khomeini-moskee in Teheran gehou. Môre beweeg die stoet vanaf die Teheran-universiteit na Azadi-plein, gevolg deur ‘n hoëvlak seremonie en nog een in Birjand voor sy begrafnis Donderdag in Mashdad. ‘n Nasionale routyd van vyf dae is afgekondig, asook ‘n nasionale vakansiedag volgende maand. Goewerneurs mag ook provinsies sluit waar begrafnis-seremonies gehou word.
# Krieket: Brandon King sê hy is opgewonde om die Wes-Indiese Eilande te lei, veral tuis. Die 29-jarige sal die Karibiese span aanvoer in die komende reeks van drie T20-wedstryde teen Suid-Afrika op Sabinapark in sy vaderland, Jamaika. Die eerste kragmeting vind Donderdag plaas. Die tuisspan se gereelde kaptein, Rovman Powell, speel nog in die Indiese Premierliga. King sê die reeks is hul laaste kans om vir volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi voor te berei:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-177-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-65-sent per vat.
# Ten slotte: Adjunkhoofregter, Mandisa Maya, beskryf haar aanstelling in die Konstitusionele Hof as die hoogste eerbewys van haar loopbaan. Sy loof die hof vir sy ondersteunende omgewing. Maya was voorheen president van die Appèlhof en sê sy het nog nooit so hard gewerk as die afgelope 20 maande nie, waar sy moes aandag gee aan 400 appèlaansoeke. Sy verskyn tans voor die Regterlike Dienskommissie as kandidaat om hoofregter Raymond Zondo op te volg wanneer hy in Augustus aftree:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….