Nuus 14:00
BULLETIN 17 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die National Coloured Congress vra ‘n ‘Gekleurde Lente’ voor die verkiesing
# Gun Free South Africa waarsku teen die feestelike gebruik van vuurwapens
# En padwedlope: Twee mans word gediskwalifiseer van die Twee Oseane-halfmarathon weens hul deelname aan die vroue-wedloop
# Die president van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het ondersteuners gevra om ‘n “Gekleurde Lente” te reël voor die plaaslike regeringsverkiesing. Hy het inwoners van die Wes-Kaap toegespreek en vra dat hul dienslewering bo persoonlike belange stel en het ook sy toewyding aan die beweging beklemtoon. Hy sê die party is gefokus op praktiese optrede op grondvlak om steun in bruin gemeenskappe te versterk:
# Gun Free South Africa se direkteur, Stanley Maphosa, sê die EFF-leier, Julius Malema, se regstreekse vonnis van vyf-jaar tronkstraf moet ‘n noemenswaardige les wees in die regulasies oor vuurwapen-gebruik. Die hof in KuGompo City in die Oos-Kaap het Malema skuldig bevind aan oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer tydens ‘n saamtrek in Mdantsane in 2018. Maphosa het aan die SABC gesê dit toon die erns van aanspreeklikheid in vuurwapen-verwante oortredings:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die sukses van plaaslike ekonomiese ontwikkeling berus op werkende, bekwame en aanspreeklike munisipaliteite. Dit volg op die tweedaagse Nasionale Plaaslike Ekonomiese Ontwikkelingsberaad oor gesamentlike, praktiese en daadwerklke oplossings vir inklusiewe plaaslike ekonomiese groei en beter dienslewering. Hlabisa sê plaaslike regering bly die dryfkrag van ekonomiese ontwikkeling. Hy waarsku egter finansiële belegging alleen sal nie uitslae lewer sonder bekwame munisipale administrasies en politieke leierskap nie.
Nuus uit die buiteland:
# Duisende mense het vroeër vandag in Kameroen se grootste stad en ekonomiese spilpunt, Douala, begin vergader vir ‘n mis saam met pous Leo, wat waarskynlik die grootste byeenkoms van sy besoek aan vier Afrika-lande sal wees. Die Vatikaan verwag ongeveer 600-duisend mense in die strate om die Japoma-stadion om aan die geleentheid deel te neem. Die eerste Amerikaanse pous is uitgesproke oor wêreldleiers, insluitend die Amerikaanse president, Donald Trump, en sê hulle bestee miljarde-rand aan oorloë en die wêreld word deur ‘n handjievol outokrate verwoes.
# Padwedlope: Verlede naweek se Twee Oseane-halfmarathon is in omstredenheid gedompel toe onthul is dat twee atlete wat onder die top-tien vroue geëindig het, eintlik mans is. Hulle is gediskwalifiseer en vir twee jaar van die wedloop verban, saam met die twee vroue wat hul inskrywings aan die bedrieërs verskaf het. Die voorsitter van die Twee Oseane, Chris Goldschmidt, sê die man wat in die sewende plek geëindig het, het onder die naam Larissa Parekh deelgeneem en die man wat tiende geëindig het, onder dié van Tegan Garvey.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-650-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-791-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….